On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Laurika
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Kan spanning in die Midde-Ooste Suid-Afrika se voedselpryse opstoot?

───   ELSABÉ RICHARD 10:56 Tue, 07 Apr 2026

Kan spanning in die Midde-Ooste Suid-Afrika se voedselpryse opstoot? | News Article
Foto: Pexels/Magda Ehlers

Suid-Afrika se inflasiekoers bly betreklik laag nadat die verbruikersprysinflasie (VPI) in Februarie tot 3,0% gedaal vergeleke met 3,5% die vorige maand.

Dié afname in VPI is hoofsaaklik te danke aan ’n skerp daling in vervoerkoste en verlangsaming in voedselinflasie. Maar die geopolitieke spanning in die Midde-Ooste, wat op 28 Februarie begin het, en die vyandighede se uitwerking op oliepryse, wek kommer oor die koste van voedsel in die komende maande.

Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom, sê die verband tussen brandstof- en voedselpryse in Suid-Afrika is beduidend, grootliks weens die land se sterk afhanklikheid van padvervoer. Sowat 80% van stapelgraan soos koring en mielies word padlangs vervoer.

Boonop word verskeie ander produkte in spesifieke streke verwerk voordat dit landwyd versprei word, wat die afhanklikheid van brandstof verder verhoog. Gevolglik kan enige styging in brandstofpryse eindelik na verbruikers oorgedra word. Sihlobo waarsku egter die gevolge is nie onmiddellik nie.

“Daar is gewoonlik tydsvertragings voordat ’n styging in brandstofpryse in kleinhandelvoedselpryse weerspieël word,” sê hy. Verskeie rolspelers in die waardeketting moet eers die kostedruk absorbeer of daarby aanpas.

Enige verhogings sal waarskynlik geleidelik wees, na gelang van hoe lank die stryd voortduur en hoe skerp brandstofkoste styg. Sommige streke ervaar reeds hoër insetkoste op plaasvlak, wat eindelik nog druk op die vooruitsig vir voedselpryse kan plaas.

Die situasie verg aandag, sê Sihlobo. As hoë brandstofpryse voortduur, kan die risiko van voedselinflasie toeneem en van die onlangse verligting in algemene inflasie omkeer.

Moet nie paniekerig raak

Die Brandstofbedryfsvereniging waarsku teen paniekaankope van brandstof. Veranderinge in verbruikersgedrag kan die land se brandstofstabiliteit nadelig beïnvloed. Avhapfani Tshifularo, uitvoerende direkteur, het aan eNCA gesê Suid-Afrikaners vrees tekorte namate die oorlog in die Midde-Ooste voortduur. Die land het voldoende brandstofvoorraad en die invoer van ru-olie gaan normaal voort.

Die departement van minerale en petroleumbronne sê inussen ten spyte van logistieke uitdagings weens die konflik, gee petroleummaatskappye die versekering die invoer van brandstofvoorrade sal voortduur. Plaaslike maatskappye voer op verskillende tye brandstof uit talle wêrelddele in.

Enoch Godongwana, minister van finansies, sê intussen ’n kabinetskomitee is gestig om oor stappe te besluit te midde van stygende brandstofkoste. 

OFM Agri/Elsabé Richard-May  

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.