Agriculture
Dis amper weer tyd vir die Bloemskou!─── ISABEL VAN TONDER 10:29 Sat, 11 Apr 2026
Die jaarlikse Bloemskou is die enigste skou in Suid-Afrika wat landbou en kommersiële aktiwiteite op grootskaal kombineer.
Die Bloemskou vier ook vanjaar 148 jaar in die skoubedryf! Vanjaar vind dit plaas vanaf 23 April tot 2 Mei.
Die tema vanjaar is “Beach Party” en lok gewoonlik meer as 100 000 besoekers oor die tien dae. Daar is sowat 350 stalletjies en die uitstalsale het spesifieke fokusareas. Dit sluit in die Proteasaal (huis, dekor, meubels) en die Daisysaal (klere, bykomstighede, hare, skoonheid en geskenkwinkel-items).
Die Lillysaal is vir entoesiaste van tegnologie, doen-dit-selfprojekte, ekovriendelike items, buitelug en robotika.
Die Tulipsaal (buitelug toebehore van Checkers en Motus-motoruitstalling) en die Rosesaal (troeteldierkos van Checkers) verseker daar is iets vir elkeen se smaak.

Meer as 900 perde neem vanjaar deel. Foto: Bloemskou
Daar word ook gestreef na ’n wêreldrekord in die Rosesaal vir die skenk van die meeste hondekos in 24 uur tussen 1 en 2 Mei.
Uitstallings van die polisie, regeringsorganisasies, landbou, motors en sowat 60 verskillende kosstalletjies verseker vir hope vermaak.
Oud en jonk kan ’n draai maak by die pretpark met sy 33 ritte. Vermaak uit die boonste rakke word aangebied met meer as 20 nasionale en plaaslike kunstenaars.
Daar is ook kenners met kettingsae en demonstrasies oor die snoei van bome. Fynproewers kan uitsien na ‘n skaapete met skaapkop, afval en skaapbredie.

Fynproewers kan smul aan skaapkop by die Bloemskou. Foto: Facebook
Skougangers kan ook uitsien na die Vrystaat Boerboel-skou, die SA Saalperdkampioenskap met byna 900 perde wat deelneem, die tweede Interprovinsiale Hoefsmidkampioenskap, die Toyota Veeplaas jong afslaerskompetisie en suiwelproduksie met 374 inskrywings.
Die kreatiewe handwerkafeling is die grootste in Suid-Afrika met 3 137 inskrywings.
Die plaaswerfsaal het pragtige uitstallings van pluimvee, sierduiwe, die Mangaung-brandweermuseum, mesmakers, perdjies, stamboom rotte, koivisse, bonsaibome en die SA Pantserskool-museum.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

