On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Vrystaat steeds in greep van bek-en-klouseer

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 14 Apr 2026

Vrystaat steeds in greep van bek-en-klouseer  | News Article
Daar is tans 433 gevalle van bek-en-klouseer in die Vrystaat. Foto: The Livestock project

Die Vrystaat loop steeds swaar deur onder bek-en-klouseer.

Minstens tien nuwe gevalle is aangemeld, waarvan twee elk by Winburg, Viljoenskroon/Vredefort en Vrede/Memel, en een elk op die Vrystaatse Goudveld, by Bultfontein, Kroonstad en QwaQwa/Harrismith.

Die departement van landbou en landelike ontwikkeling prioritiseer dié inenting van die beeste en bykomende entstowwe is bekom. Bewegingsbeperkings is ingestel op alle plase binne ’n radius van 10 km van die besmette gebiede om verspreiding te voorkom.

Gevalle

Die aantal gevalle staan nou op 69 by Viljoenskroon/Vredefort, 50 by Parys/Vredefort, 46 by Deneysville/Sasolburg en 35 by Villiers/Cornelia/Frankfort. Vrede/Memel het 24 gevalle, Clocolan 23 en Kroonstad 21.

By Reitz/Lindley, QwaQwa/Harrismith en Marquard/Senekal is 20 gevalle elk aangemeld, 16 in die Vrystaatse Goudveld en 14 elk by Edenville/Koppies en Bethlehem.

Die staat het reeds 312 414 inentings gedoen. Foto: Pexels

Warden het 12 gevalle, Heilbron nege, Tweeling en Bothaville sewe elk, Edenburg/Reddersburg ses en Boshof/Bultfontein vyf. Drie gevalle elk is by Ladybrand/Hobhouse en Smithfield/Rouxville aangemeld, terwyl Bloemfontein en Thaba Nchu elk een geval het.

Die departement het op 25 Februarie 200 000 dosisse Biogéneses-entstof ontvang en op 12 Maart 195 000 dosisse Dollvet-entstof. Die entstof word versprei na vyf distrikte vir inenting. Altesaam 150 346 beeste is reeds ingeënt met die entstowwe. Alle entstof wat deur die staat toegedien word, is gratis.

In ooreenstemming met die Staatskoerant Nr. 51512 van 13 Junie 2025 en die Dieresiektewet (Wet 35 van 1984) doen die departement ’n beroep op alle boere, afslaers en spekulante om die beweging van gehoefde diere te beperk.

Volg streng biosekuriteitsmaatreëls en enige nuwe vee moet vir 28 dae in afsondering gehou word.  Hou rekord van jou vee en meld enige verdagte gevalle onmiddellik aan by die staatsveearts.

Aansoeke vir inentings word ingewag en daar is reeds heelwat aansoeke ontvang. Foto: Farmwell /Wales

Landbouers word daaraan herinner dat alle aansoeke moontlik nie sal slaag met die eerste ronde van inentings en strategie nie. Aansoeke word egter aangemoedig om toekomstige hoeveelhede van die entstowwe te bepaal.

Gevalle van bek-en-klouseer wat nie gerapporteer word nie, is ’n groot bekommernis vir die departement. As gevalle nie aangemeld word nie, veroorsaak dit probleme met die beplanning en voorsiening van entstof aan die besmette gebied en kan dit daartoe lei dat te min entstof daaraan toegewys word.

Boere moet ook onthou die beweging van diere onder kwarantyn sonder die nodige dokumentasie is ’n misdaad. Die departement vra boere en belanghebbendes om saam te werk in die bekamping en verspreiding van die siekte. 

OFM Agri/Isabel van Tonder dg

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.