Agriculture
Nuwe regulasies bedreig eiendomsreg en openbare toegang tot damme─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 15 Apr 2026
Die departement van water en sanitasie word daarvan beskuldig dat sy voorgestelde regulasies oor die beheer van staatsdamme ongeregverdig en onregmatig is.
AfriForum sê die voorgestelde wysiging wil openbare toegang tot damme beperk en staatsbeheer oor privaat eiendom uitbrei. Die organisasie het onlangs formeel kommentaar ingedien teen die konsepregulasies wat op 16 Januarie gepubliseer is.
Hulle steun verantwoordelike waterbestuur, sê Marais de Vaal, AfriForum se omgewingsakeraadgewer, maar die voorgestelde regulasies strek veel verder as hierdie doelwit. Dit stel ’n regulatoriese stelsel bekend wat bestaande regte ondermyn, oormatige administratiewe laste oplê en gewone gebruik van damme vir ontspanning onder staatsbeheer plaas.
’n Belangrike bron van kommer is dat lede van die publiek goedkeuring sal nodig hê om toegang te verkry tot damme wat aan die staat behoort of bestuur word, soos die Vaaldam. Word dit geweier, kan mense strafregtelik vervolg word, en aktiwiteite soos roei en visvang sal onwettig gemaak word.

Privaat eiendomsreg word bedreig met die voorgestelde regulasies. Foto: Facebook
Privaat eiendomsreg word ook bedreig, maan AfriForum. Grondeienaars langs damme sal gedwing word om aan uitgebreide vereistes te voldoen en ooreenkomste met die staat aan te gaan om toegang tot water vanaf hul eie eiendomme te verkry.
Hulle is veral krities oor die oënskynlike motief agter die regulasies, sê De Vaal. Die raamwerk wil toegang tot damme kommersialiseer deur huurooreenkomste en betalings vir die gebruik van water en aangrensende grond te eis. Die plan ondermyn die beginsel dat water ’n openbare hulpbron is.

Gemeenskappe en watergebruikers moet deel vorm van besluite, sê AfriForum. Foto: Facebook
Die voorgestelde stelsel is ook administratief onwerkbaar. Dit stel ingewikkelde goedkeuring- en voldoeningsvereistes voor wat waarskynlik nie doeltreffend toegepas sal kan word nie, veral deur ’n departement wat reeds sukkel om die mas op te kom.
Die regulasies lei die aandag van die werklike krisis in die watersektor af, meen De Vaal. “Terwyl die regering poog om die gebruik van staatsdamme vir ontspanning te beheer, misluk dit om infrastruktuur te handhaaf en grootskaalse rioolbesoedeling van riviere en damme te voorkom.”
Hierdie regulasies “gaan nie oor verantwoordelike waterbestuur nie, maar oor beheer. Die departement poog om ’n wettige stelsel te vervang met ’n onwerkbare raamwerk wat openbare toegang sal beperk en eiendomsreg sal ondermyn.”
AfriForum vra die departement moet die voorgestelde regulasies terugtrek en behoorlik met belanghebbendes skakel. “Gemeenskappe en watergebruikers moet deel wees van oplossings, nie drakoniese regulasies nie,” sê De Vaal.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
