On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Eksterne adviseurs van landbouprodukte gaan registrasie bespoedig

───   ELSABÉ RICHARD 10:24 Wed, 22 Apr 2026

Eksterne adviseurs van landbouprodukte gaan registrasie bespoedig | News Article
John Steenhuisen, minister van landbou. Foto: Facebook/Departement van landbou

Altesame 27 eksterne tegniese adviseurs sal nou skouer aan die wiel sit nadat hulle aangestel is om die departement van landbou te help om die agterstand in die registrasie van landbouprodukte in te haal en prosesse te versnel.

John Steenhuisen, minister van landbou, het die groep uit 46 aansoekers gekies op grond van hul vaardighede en ervaring. Die span bestaan uit tien spesialiste vir landboumiddels, tien vir veemiddels, ses vir plaasvoer en een kunsmisspesialis.

Die departement sê dit is sy verantwoordelikheid om toe te sien dat landbou-insette soos kunsmis, veevoer, plaagdoders, veemiddels en landboumiddels doeltreffend is en minimale risiko vir menslike gesondheid en die omgewing inhou voordat dit ingevoer, verkoop of gebruik word.

“Deur hierdie eksterne spesialiste aan te stel, beoog die departement om die agterstand uit te wis en vinniger diens aan die bedryf te lewer. Die adviseurs sal help om tegniese data te evalueer en te verseker dat alle produkte aan veiligheid- en gehaltestandaarde voldoen, soos vereis deur die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels, 1947 (Wet Nr. 36 van 1947),” lui die verklaring.

Kommer oor registrasie-agterstande

Saai, ’n nasionale netwerk van familieboere, het voorheen sy kommer uitgespreek oor die ineenstorting van die regsraamwerk vir die regulering van landbou-insette. Volgens die organisasie het die kantoor wat hiervoor verantwoordelik is, onder ernstige probleme gebuk gegaan, insluitend uitermatig lang omkeertye in die verwerking van registrasies en aansoeke, soms tot ses jaar.

Die organisasie het ook gewaarsku nuwe tegnologie en noodsaaklike produkte sonder alternatiewe word in die mark geblokkeer, terwyl die registrasiestelsel bykans heeltemal verstop is.

'Baie landbouprodukte is reeds in ander lande goedgekeur en gebruik'

“Daar is kritieke landbou- en veemiddelprodukte wat al jare lank in die Registrateur se agterstand vassteek,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai. “Baie van die aansoeke behels tegnologiese verbeteringe en alternatiewe wat reeds in ander lande goedgekeur is en wyd gebruik word.

“Dit is nie buitengewone of ongetoetste produkte wat jare se evaluering verg nie. Die probleem is dat hierdie aansoeke in Suid-Afrika eenvoudig nie afgehandel word nie. Dit is nie net ’n gewone vertraging nie, maar ’n administratiewe ineenstorting wat vooruitgang, volhoubaarheid en mededingendheid in landbou terughou,” het Rossouw gesê.

Met die aanstelling van die bykomende adviseurs hoop die departement om die agterstand vinniger uit te wis en registrasieprosesse te verbeter.

OFM Agri/Elsabé Richard-May  cvdw

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.