Agriculture
Bek-en-klouseer – feite wat elke produsent moet ken─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Fri, 24 Apr 2026
Bek-en-klouseer, algemeen bekend as FMD, is ’n hoogs aansteeklike virus wat gespletehoefdiere aantas.
Gespletehoefdiere is alle diere met gesplete hoewe; dit sluit beeste, skape, bokke, buffels en varke in. Die siekte veroorsaak pynlike sere in die mond en op die voete, wat diere baie ongemaklik maak en hulle kan verhinder om behoorlik te beweeg of te eet.
In Suid-Afrika kom die Suider-Afrikaanse Territorium (SAT)-stamme van bek-en-klouseer voor, wat meestal siekte by beeste veroorsaak.
Corlia Oberholzer, bedryfsbestuurder van RMIS, maan bek-en-klouseer versprei maklik. Produsente moet verstaan hoe die siekte lyk, hoe dit versprei en hoe gemaak as hulle dit op hul plaas vermoed.

Diere kan mank begin loop of hul eetlus verloor as hulle besmet is met BEK. Foto: Vrystaat Landbou
Diere met bek-en-klouseer toon nie dadelik simptome nie. Dit kan tot twee weke duur voordat simptome opduik. Dis die sogenaamde inkubasietydperk. Dan lyk die dier dalk gesond, maar kan steeds die virus versprei.
Die algemeenste simptome van bek-en-klouseer sluit blase of sere in die mond of aan die pote in, wat pynlik kan wees. Diere kan begin mank loop en hul eetlus verloor. Nog ’n teken van bek-en-klouseer is kwyl of groot hoeveelhede speeksel uit die bek.

Die BEK-virus kan tot drie dae in 'n mens se keel oorleef en diere dan aangesteek word. Foto: Pexel
Die dier herstel gewoonlik binne ’n week of twee ná hierdie tekens, sê Oberholzer. In dié tyd ontwikkel die dier sy eie immuniteit teen die siekte. Diere wat van die siekte herstel het, kan egter die virus 28 dae of langer op ’n baie lae vlak dra.
Bek-en-klouseer versprei vinnig en op verskeie maniere. Die virus kan aan mense se klere, hande en stewels gedra word; dus kan dit onbewustelik van een plek na ’n ander versprei. Die virus kan oorgedra word deur toerusting en voertuie wat tussen plase beweeg.
Nog ’n belangrike feit is dat die bek-en-klouseer-virus tot drie dae lank in iemand se keel kan oorleef. Die virus kan oorgedra word deur bloot naby ’n dier te asemhaal.
Met akkurate, tydige inligting kan produsente beter besluite neem, biosekerheid opskerp en die risiko van verdere verspreiding van bek-en-klouseer verminder.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
