Agriculture
Bek-en-klouseer plaas Vrystaat onder druk─── ISABEL VAN TONDER 10:07 Sat, 25 Apr 2026
Die gevalle van bek-en-klouseer in die Vrystaat neem steeds toe en daar is tans 456 bevestigde gevalle.
Daar is minstens 12 nuwe gevalle geïdentifiseer in die omgewing van Dewetsdorp (2), Kroonstad (1), Frankfort/Cornelia/Villiers (2), Welkom/Odendaalsrus/Ventersburg/Hennenman/Virginia (1) Bultfontein (2), Bloemfontein/Soutpan (1), Winburg (1) en Qwa-Qwa/Harrismith (2).
Die departement van landbou en landelike ontwikkeling priotiseer die inenting van beeste in die betrokke gebiede en bykomende entstowwe is bekom.

Boere moet rekord hou van hul vee. Foto: Pexels
Die departement doen ’n beroep op boere om alle maatreëls na te kom. Daar is ook ’n beperking geplaas op die vervoer van diere binne ’n radius van10 km van die besmette gebiede.
Gevalle per munisipaliteit
- Kroonstad: 22
- Viljoenskroon/Vredefort: 73
- Heilbron: nege
- Edenville/Koppies: 14
- Parys/Vredefort: 50
- Deneysville/Sasolburg: 46
- Villiers/Cornelia/Frankfort: 35
- Bethlehem/Tweeling: 21
- Reitz/Lindley: 20
- Warden: 12
- Vrede/Memel: 24
- Qwa Qwa/Harrismith: 24
- Goudveld: 17
- Bothaville: sewe
- Marquard/Senekal: 20
- Clocolan:23
- Ladybrand/Hobhouse: drie
- Smithfield/Rouxville: drie
- Edenburg/Reddersburg: sewe
- Bloemfontein/Soutpan: twee
- Boshof/Bultfontein: vyf
- Dewetsdorp: twee
- Bultfontein: sewe
- Winburg: drie
- Thaba Nchu: een
Minstens 399 397 beeste van die nasionale kudde is met die entstowwe van Biogeneses en Dollvet ingeënt. Addisionele entstof van Biogenesis Bago is op 15 April ontvang en inenting is die volgende dag hervat. Alle entstof wat deur die staat toegedien word, is gratis.
In ooreenstemming met die Staatskoerant Nr. 51512 van 13 Junie 2025 en die Dieresiektewet (Wet 35 van 1984) doen die departement ’n beroep op alle boere, afslaers en spekulante om die beweging van gehoefde diere te beperk.
Volg streng biosekuriteitsmaatreëls en enige nuwe vee moet vir 28 dae in afsondering gehou word. Hou rekord van jou vee en meld enige verdagte gevalle onmiddellik aan by die staatsveearts.
Aansoeke word ingewag en heelwat aansoeke is ontvang. Landbouers word daaraan herinner dat alle aansoeke moontlik nie sal slaag met die eerste ronde van inentings en strategie nie. Aansoeke word egter aangemoedig om toekomstige hoeveelhede van die entstowwe te bepaal.
Gevalle van bek-en-klouseer wat nie gerapporteer word nie, is ’n groot bekommernis vir die departement. As gevalle nie aangemeld word nie, veroorsaak dit probleme met die beplanning en voorsiening van entstof aan die besmette gebied en kan dit daartoe lei dat te min entstof daaraan toegewys word.

Daar is reeds 399 397 van die nasionale kudde ingeënt Foto: Pexels
Boere moet ook onthou die beweging van diere onder kwarantyn sonder die nodige dokumentasie is ’n misdaad. Die departement vra boere en belanghebbendes om saam te werk in die bekamping en verspreiding van die siekte.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

