Agriculture
Landbou waarsku: Brandstofkrisis bedreig oeste─── 13:47 Thu, 30 Apr 2026
Die landbousektor verwelkom die verlengde brandstofheffing-verligting, maar landbouorganisasies waarsku teen stygende risiko’s vir winter- en somer-oesproduksie.
AgriSA en Agbiz sê in ’n gesamentlike verklaring die verlenging tot Junie bring geldelike verligting op kort termyn vir boere en verbruikers midde-in die wisselvallige oliepryse wêreldwyd. Hulle maan egter dié ingryping los nie die onderliggende probleme van die sektor op nie.
Beskikbaarheid van brandstof, stygende insetkoste en die olieprysstyging weens die oorlog in die Midde-Ooste is van die dieperliggende probleme waardeur boere in die gesig gestaar word. Onlangse peilings onder boere en brandstofverspreiders toon landbou se grootste kommer is steeds stygende pryse, betroubare voorsiening en insetkoste.
Volgens die meningsopnames gaan die voorsieningsketting steeds onder probleme gebuk, insluitend vertraagde aflewerings, toekenningsbeperkings en verminderde volumes wat plase bereik. In sommige gevalle ontvang boere slegs ’n deel van hul gewone brandstofvoorraad; dit lei tot vertragings tydens deurslaggewende plant- en bedryfsperiodes, sê die landbouorganisasies.
‘Die koringaanplanting vir die 2026/27-seisoen kan sowat 6% laer
wees; die laagste in twaalf jaar’
Hierdie uitdagings, vererger deur die stygende koste van kunsmis, swakker pryse en onseker weerstoestande, plaas toenemende druk op winsgrense.
AgriSa en Agbiz sê in die lig van die komende winterplantseisoen is hierdie uitdagings veral kommerwekkend. Data dui reeds daarop die koringaanplanting vir die 2026/27-seisoen kan sowat 6% laer wees; die laagste in twaalf jaar.
Dit word toegeskryf aan laer pryse wêreldwyd, stygende insetkoste en toenemende produksieonsekerheid. Vertraging van aanplantings weens brandstofbeperking of laer insette kan die totale produksie negatief beïnvloed.

Voortdurende brandstoftekorte en pryswisselvalligheid is ook vir die someroesseisoen ’n wesenlike risiko. Foto: Pexels
Die organisasies waarsku voortdurende brandstoftekorte en pryswisselvalligheid, wat deur stygende wêreldoliepryse vererger word, is ook vir die someroesseisoen ’n wesenlike risiko. Dis ten spyte daarvan dat Suid-Afrika na verwagting ’n rekord van 20,8 miljoen ton graan en oliesade in die 2025/26-seisoen gaan oes.
Hoewel dit korttermynsekerheid vir voedselvoorsiening en -pryse verskaf, moet die groeiende risiko’s vir toekomstige produksiesiklusse nie uit die oog verloor word nie.
Diesel bly ’n kritieke, onontbeerlike inset vir plant, besproeiing, oes en logistiek. Gebrekkige verskaffing en prysstygings het dus onmiddellike gevolge vir landbou-uitsette.
Opnamedata wys boere doen reeds stappe om stygende koste die hoof te bied deur verminderde produksie, laer insette, gebruik van geldreserwes en ondersoeke na alternatiewe energieoplossings.
AgriSA en Agbiz beklemtoon ’n gekoördineerde reaksie, wat fokus op betroubare brandstofvoorsiening, groter deursigtigheid in verspreiding en die oplos van logistieke knelpunte, sal nodig wees om landbou te stabiliseer.
Hulle verwelkom die voortgesette hersiening van die brandstofprysformule en beklemtoon die belangrikheid daarvan om die werklike uitdagings van landbouproduksie in toekomstige regulasies in ag te neem.
Ten spyte van die uitdagings is die organisasies daartoe verbind om saam met die regering en bedryfsbelanghebbendes te werk om te verseker Suid-Afrika se landbousektor by veerkragtig, produktief en daartoe in staat om tot voedselsekerheid en ekonomiese groei by te dra.
OFM Agri cvs
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
