Agriculture
Vrystaat Landbou ontevrede oor voortslepende BKS-hofsaak─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Sat, 02 May 2026
Vrystaat Landbou (VL) is uiters teleurgesteld en gefrustreerd oor die jongste verwikkelinge in die voortslepende bek-en-klouseer-hofsaak.
Tydens die hofsaak is die hooggeregshof gedwing om streng sperdatums en ’n strafkostebevel teen John Steenhuisen, minister van landbou, en sy departement op te lê na aanhoudende vertragings.
Die hof het nou gelas die lank uitgestelde artikel-10-inentingskema moet teen Dinsdag (5/5) gefinaliseer en gepubliseer word.
Die saak word Maandag (11/5) hervat. Die hof het ook ’n strafkostebevel teen die respondente toegestaan.

Die jongste hofuitspraak volg ’n patroon van sperdatums wat nie nagekom is nie. Foto: Farmers Review Africa
“Ten spyte van die ernstige impak van bek-en-klouseer (BKS) op boere, landbouondernemings en vee, het die minister van landbou en sy amptenare weer probeer om dringende hofverrigtinge te vertraag.
“Die gebrek aan dringendheid en stadige reaksie deur die department kos boere miljoene.” sê Francois Wilken, president van VL.
Koste
“Die werklikheid op die grond is dat boere die koste van oneffektiwiteit dra. Elke vertraging verhoog risiko, verliese en onsekerheid oor die sektor.”
Hierdie verwikkelinge vorm deel van ’n voortgesette dringende aansoek wat deur VL, Sakeliga en Saai ingedien is om die staat se obstruksie van die private sektor se deelname aan die verkryging en toediening van BKS-entstowwe te betwis.

Elke vertraging verhoog risiko, verliese en onsekerheid in die sektor. Foto: Pexels
Wilken sê die jongste uitspraak volg ’n patroon van sperdatums en verskuiwende standpunte deur die minister, insluitend verskeie onvervulde verbintenisse om ’n werkbare inentingsraamwerk te publiseer.
VL beklemtoon daar is geen regsbasis om te verhoed dat die private sektor ’n betekenisvolle rol in BKS-inenting speel nie.
Voortgesette vertragings en onsekerheid plaas boere, landbouondernemings en voedselsekerheid in gevaar, terwyl praktiese oplossings onnodig beperk bly.
Volgens Wilken sal VL en sy vennote die saak in die hof voortsit om te verseker enige finale raamwerk sal effektiewe, onmiddellike en praktiese siektebeheermaatreëls moontlik maak, insluitend inenting deur die private sektor.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

