Agriculture
Klein idees, groot oplossings by NAMPO Boereplanne-stalletjie─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 06 May 2026
Tussen die groot masjinerie en blink tegnologie op NAMPO is dit dikwels die eenvoud van ’n goeie idee wat die meeste aandag trek.
Die Boereplanne-kompetisie-en-stalletjie is reeds sedert die tagtigerjare ’n groot trekpleister op die NAMPO Oesdag. Dit word saam met Omnia en Graan SA aangebied.
Die prysgeld beloop R50 000. Besoekers kan die stalletjie met boereplanne langs Omnia by standplaas B1 besoek.
“Om die hele tyd planne te maak is immers wat boere uniek maak en die Boereplanne-kompetisie is ’n wonderlike instelling. Dit is ’n besondere eer om dié kompetisie deur die jaar onder die aandag van ons boere te hou,” sê Chris Burgess, hoofredakteur van Landbouweekblad.

Wenners en borge van die kompetisie in 2025 tydens NAMPO. Foto: Elzette Boucher
Die “boereplan” wat waarskynlik die grootste invloed nog op Suid-Afrika gehad het, is Daan Human, Springbok-afrigter se skrummasjien, wat in Bloemfontein deur Werner Dreyer gebou is. Die Cheetahs-rugbyspan gaan ook kom inloer.
Nóg ’n uitdaging wat groot belangstelling wek, is die dieseldrom-uitdagings, waar boere uitgedaag word om met die beste patent vorendag te kom waarop net een mens ’n drom diesel agterop ’n bakkie kan laai. Die wenner sal die prysgeld van R10 000 los slaan.
Burgess noem ook dat daar werklik vindingryke planne in die vroeëre kompetisies was soos die jong seun van Mpumalanga wat ’n plan uitgedink het om die “bekslaner”-hek toe te maak sonder die gevaar van die hou op die mond, soos die naam inderwaarheid voorspel.

Boere met blink planne word genooi om so gou moontlik in te skryf vir die kompetisie. Foto: Graan SA
Boere met blink planne word dus genooi om hul planne so gou as moontlik vir die kompetisie in te skryf. Deelnemers kan in ses afdelings inskryf wat duidelik op die inskrywingsvorm uiteengesit word.
Inskrywings kan enige toerusting wees wat aangewend kan word om die probleme op die plaas aan te pak. Dis nie net boereplanne wat ingeskryf kan word wat plaasprobleme oplos nie, maar ook huishoudelike oplossings.
Deelnemers kan in ses afdelings inskryf en produkte kan reeds kommersieël beskikbaar wees. Uitstalruimte van 10 x 10 m kan ook op volgende jaar se NAMPO Oesdag losgeslaan word.
Oud en jonk kan inskryf vir die kompetisie. Afdelings sluit nuwe werktuie of toerusting in, werktuie of toerusting wat aangepas is, huis en tuin, skoleafdeling vir jong planmakers, kommersiële afdeling en ope afdeling.
Kry so gou as moontlik jou inskrywingsvorm of stuur e-pos na wim@grainsa.co.za.
In ’n tyd waar landbou voortdurend onder druk is, bied hierdie soort vindingrykheid nie net oplossings nie, maar ook hoop – en ’n bewys dat Suid-Afrikaanse boere altyd ’n plan sal maak!
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
