On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Bek-en-klouseer-inentingsaansoeke oop in VS

───   ELSABÉ RICHARD 12:11 Wed, 06 May 2026

Bek-en-klouseer-inentingsaansoeke oop in VS | News Article
Foto: Facebook/National Department of Agriculture

Boere word daaraan herinner aansoeke om bek-en-klouseer (BKS)-inenting is oop.

Die Vrystaatse landboudepartement waarsku egter nie almal sal goedgekeur word in die eerste ronde nie. Voorkeur word gegee aan hoërisiko-gebiede.

Tog word boere aangemoedig om aansoeke in te dien. Dit help die departement om die inentingsveldtog te beplan en toekomstige entstofbehoeftes te bepaal.

Byna 400 000 beeste is reeds ingeënt met die Biogénesis Bagó en Dollvet-entstof. Die provinsie worstel met 456 BKS-gevalle, nadat twaalf nuwes bevestig is. 

Die uitbrekings woed in 19 munisipaliteite. Moqhaka (Kroonstad) het die meeste gevalle (95), gevolg deur Ngwathe (Parys, 73) en Metsimaholo (Sasolburg, 46).

Die departement sê hy het bewegingsbeperkings ingestel op alle plase binne ’n radius van 10 km van die besmette plase wat intussen onder kwarantyn is.

Vrystaatse boere word intussen gevra om steeds enige potensiële geval aan te meld. Die department waarsku die versuim hiervan is nie net ’n strafregtelike oortreding nie, maar skep ook ’n onakkurate prentjie van hoe wydverspreid die siekte is.

“Versuim om vermoedelike gevalle aan te meld, belemmer effektiewe beplanning vir inentingsveldtogte, aangesien akkurate inligting benodig word om die hoeveelhede entstof wat verskaf moet word, te bepaal.”

Onvoldoende rapportering kan lei tot entstoftekorte in sekere gebiede en vertragings in die instel van beheermaatreëls, wat die risiko van verdere verspreiding van die siekte verhoog.

Nóg entstowwe op pad

John Steenhuisen, minister van landbou, het Argentinië besoek om ’n bestendige voorraad BKS -entstowwe te verseker. Biogenésis Bagó, ’n entstofvervaardiger in dié Suid-Amerikaanse land, het sedert vroeg vanjaar 2,5 miljoen dosisse entstof aan Suid-Afrika verskaf.

Steenhuisen sê hy het gesprek gevoer met Argentinië se biosekerheidsagentskap oor hoe hy die virus kan bedwing ná inenting. Argentinië is al 30 jaar BKS-vry. Steenhuisen meen SA kan baie leer by dié land om ook BKS-vry geklassifiseer te word deur die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid danksy inenting.

Die minister en sy afvaardiging het ook produksieaanlegte geïnspekteer waar nog 5 miljoen dosisse gereed is vir uitvoer, hangende goedkeuring deur die SA Gesondheidsprodukte-reguleringsowerheid.

SA as entstofverspreidingsentrum

Die nasionale departement sê met Steenhuisen se besoek is ook die moontlikheid verken om SA te posisioneer as ’n streeksentstofverspreidingsentrum vir die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap. Dit kan bereik word deur kundigheid, stelsels en vennootskappe te benut.

“Ons lewende hawe is nou verbind met die ekonomieë en voedselstelsels van die SAOG. 

“Hierdie vennootskap gaan oor die integrasie van wetenskap, produksie en implementering om ’n veerkragtige dieregesondheidstelsel te bou wat nie net in staat is om die huidige uitbreking te bestuur nie, maar ook om toekomstige krisisse te voorkom,” voeg Steenhuisen by.

OFM Agri/Elsabé Richard-May cvs

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.