Agriculture
TLU SA bekommerd oor regering se beleidsrigting─── ISABEL VAN TONDER 15:30 Thu, 07 May 2026
TLU SA het twee formele briewe aan pres. Cyril Ramaphosa en John Steenhuisen, minister van landbou, gerig waarin ernstige kommer uitgespreek word oor die land se huidige beleidsrigting.
Die organisasie is ook besorg oor druk op voedselproduksie en die dringende behoefte aan praktiese, ekonomies verantwoordbare oplossings vir groei. “Die staat se kernverantwoordelikheid is om veiligheid te verseker en ‘n beleidsomgewing te skep waarin mense hulle ekonomies kan bemagtig.
“Ware bemagtiging ontstaaan nie deur ideologiese voorskrifte of rasgebaseerde wetgewing nie, maar deur geleenthede,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.
Volgens TLU SA kan die land dit nie bekostig om voort te gaan met beleid wat beleggersvertroue ondermyn, meriete opsyskuif en ekonomiese groei kniehalter nie. In die brief aan die president wys die organisasie daarop landbou staan nie los van die breër ekonomie nie, maar is juis een van die fondamente waarop stabiliteit, werkskepping en voedselsekerheid gebou word.

TLU SA is besorg oor druk op voedselproduksie. Foto: Pexels
TLU SA het in die brief beklemtoon rasgegronde beleidsinstrumente soos SEB verbeter nie in die praktyk die breë bevolking se ekonomiese situasie nie. Die organisasie vra beleid en wetgewing moet voortaan gemeet word aan werklike ekonomiese trefkrag, die vermoë daarvan om beleggersvertroue te herstel en die bydra wat dit lewer tot volhoubare werkskepping.
In ‘n tweede brief aan die minister van landbou het TLU SA ‘n praktiese groeigeleentheid uitgelig, die moontlike ontwikkeling van ’n etanol- en biodieselbedryf in die land.
Teen die agtergrond van druk op brandstofvoorsiening, wisselende kommoditeitsmarkte en die potensiaal van landbouproduksie vra TLU SA die department moet ‘n omvattende, onafhanklike studie laat doen oor die haalbaarheid van etanol- en biodieselaanlegte.
Die organisasie meen suikerriet, mielies, sojabone en sonneblom kan moontlik deel van ‘n groter bio-brandstofstrategie uitmaak, mits dit verantwoordelik ondersoek word en nie voedselsekerheid of plaaslike pryse benadeel nie.
Van Zyl sê hulle vra nie ondeurdagte ingryping nie, net ernstige, onafhanklike navorsing wat ekonomiese werklikhede, voedselsekerheid, infrastruktuur, beleggings, omgewingsimpak en energie-onsekerheid in ag neem.
TLU SA sê die twee briewe dra dieselfde kernboodskap: Suid-Afrika se beleidskeuses moet gemeet word aan tasbare uitkomste. Die land het nie nog ideologiese eksperimente nodig nie, maar ‘n omgewing waarin veiligheid, eiendomsreg, meriete, beleggings, kundigheid en voedselproduksie beskerm en versterk word.
“Landbou kan ‘n groter rol speel in ekonomiese herstel, energiesekerheid en werkskepping,” sê Van Zyl.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
