On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Produsente gemaan om lone betyds by Vergoedingsfonds te verklaar

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Tue, 12 May 2026

Produsente gemaan om lone betyds by Vergoedingsfonds te verklaar | News Article
Foto: Pexels/Mark Stebnick

Produsente word daaraan herinner die sperdatum vir die verklaring van lone by die Vergoedingsfonds is 30 Junie.

Stephan Pietersen, stigter van Work Accident Support, sê dit is van kardinale belang dat produsente betyds hul lone verklaar om boetes te vermy en in goeie stand by die fonds te bly. Die verklaring van lone is ’n wetlike vereiste ingevolge die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (Coida).

“Alle ondernemings, insluitend produsente wat minstens een werknemer in diens het, moet geregistreer wees by die Vergoedingsfonds,” sê hy. Dit verseker dat werkers gedek word teen werksbeserings en beroepsiektes.

Die vereiste is op verskillende kategorieë werknemers van toepassing. “Dit sluit permanente werkers, tydelike werknemers, kontrakwerkers, seisoenwerkers en selfs werkende direkteure in,” sê Pietersen.

Die lone wat verklaar moet word, is dié wat tussen 1 Maart 2025 en 28 Februarie 2026 uitbetaal is. Volgens Pietersen is die maksimum salaris wat verklaar mag word R633 128 per werknemer of direkteur. “Indien iemand byvoorbeeld R700 000 verdien het, moet die produsent steeds net R633 128 verklaar”.

Nuwe vereistes skep onsekerheid

Vanjaar se proses verskil van vorige jare omdat produsente nou bykomende dokumentasie moet indien, sê Pietersen. 

“In die verlede was dit nie nodig om enige vorms op die Vergoedingsfonds se stelsel te laai nie, maar vanjaar moet produsente ook ’n betaallys-verslag en ’n bevestiging van registrasie oplaai,” sê hy. Volgens hom het dié verandering reeds groot onsekerheid onder produsente veroorsaak.

Hy waarsku produsente wat nie hul lone betyds verklaar nie, kan ’n boete van 10% op hul finale aanslag ontvang. “Met die nuwe Coida-wysigingswet wat nou in werking getree het, is dit belangriker as ooit om die proses betyds af te handel,” beklemtoon Pietersen.

Produsente word aangemoedig om seker te maak dat hul registrasie-inligting korrek is. Hulle moet veral seker maak dat hulle onder die regte kategorie geregistreer is en dat die korrekte tarief toegepas word.

Boerderye met pakhuise kan moontlik geld bespaar deur die pakhuis as ’n tak van die boerdery te registreer. Dit kan “groot besparings” vir produsente meebring, sê Pietersen.

OFM Agri/Elsabé Richard-May sm

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.