Agriculture
Steenhuisen verwerp aantygings van ‘R10 miljoen vir biosekerheid’─── ELSABÉ RICHARD 12:47 Fri, 15 May 2026
Die landbouminister maak berigte dat sy departement slegs R10 miljoen aan biosekerheid toeken, as “fopnuus” af.
John Steenhuisen het Vrydag (15/05) die 2026/27-landboubegroting van R7,8 miljard in die Parlement ter tafel gelê. Die portefeuljekomitee oor landbou het kennis geneem dat die begroting laer is die R7,96 miljard vir die 2025/26-boekjaar.
Byna 57% van die begroting, oftewel sowat R4,46 miljard, word toegewys aan oordragte en subsidies, hoofsaaklik aan provinsies en die Landbank.
Altesaam R2,5 miljard is in die huidige boekjaar aan biosekerheid, navorsing en natuurlike hulpbronbestuur opsy gesit, sê Steenhuisen. ’n Groot deel hiervan word gebruik om navorsing, diagnostiek en uitvoernakomingstelsels te versterk. Die departement het reeds ongeveer R494 miljoen daarvan bestee.
Die minister sê die oorblywende R1,6 miljard is geoormerk vir die voortsetting en uitbreiding van die inentingsveldtog teen bek-en-klouseer (BKS).
“Dit weerspieël beide die omvang van die uitdaging voor ons en die erns waarmee ons die beskerming van die nasionale kudde en die langtermyn volhoubaarheid van die veebedryf benader,” het Steenhuisen gesê.
Hy het skerp gereageer op bewerings dat net R10 miljoen van die begroting vir biosekerheid beskikbaar gestel word. “R120 miljoen van die Omvattende Landbou-ondersteuningsprogram is ook toegeken aan die stryd teen BKS, baie meer as die berugte R10 miljoen.”
Die portefeuljekomitee oor landbou het egter kommer uitgespreek dat biosekerheidsbefondsing steeds onvoldoende is gegewe die omvang van die risiko’s waarmee die sektor tans gekonfronteer word.
Die staat kan dit nie alleen doen nie
Suid-Afrika het nou ’n geleentheid om sy biosekerheidstelsels te herbou en te versterk om huidige en toekomstige siekte-uitbrekings beter te bestuur, sê Steenhuisen. Hy waarsku siektes soos Afrika-varkpes, slenkdalkoors en veral BKS plaas produsente en die lewendehawebedryf onder geweldige druk.
Tydens ’n paneelbespreking op die NAMPO Oesdag buite Bothaville, het hy beklemtoon samewerking tussen die staat en die privaat sektor is noodsaaklik om die krisis hok te slaan.
“Om BKS dwarsoor die land te probeer bestry, werk nie. Om mooi lyne op ’n kaart in Pretoria te trek en te verwag dat diere nie in en uit kwarantyngebiede beweeg nie, help nie. Ons moes iets anders doen. Ek het daarop aangedring dat die privaat sektor aan boord gebring word,” het hy gesê.
OFM Agri/Elsabé Richard-May sm
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
