Agriculture
Pekanneute vereis ekstra aandag in nat toestande─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 20 May 2026
Meer aandag gaan vanjaar nodig wees tydens die oes van pekanneute, veral met die hantering en uitdroging daarvan.
Produksiegebiede het teen die tyd goeie reën ontvang. Dit is egter noodsaaklik om tot elke prys die uitstekende gehalte van Suid-Afrikaanse pekanneute te behou, veral ook wat uitvoer betref.
Die Suid-Afrikaanse Pekanneutprodusenteorganisasie (Sappo) sê skoon en droë neute bly belangrik om die hoë standaarde van die bedryf te ondersteun en om te verseker dat neute in ’n goeie toestand by verwerkers aankom.
Produsente word aangemoedig om neute so spoedig moontlik van die nat grond af op te tel en om goeie praktyke tydens oes en hantering toe te pas.

Suid-Afrika se uitvoer pekanneute voldoen aan baie hoë standaarde. Foto: Krag Dag Gemeenskap
In koel en bewolkte toestande droog neute stadiger as in warmer en droër toestande. Ekstra waaksaamheid is nodig om seker te maak die neute is behoorlik droog voordat dit in sakke geplaas of geberg word.
Terugvoering uit verskeie produksiegebiede hierdie seisoen dui op besonderse neutgehalte en kan met goeie bestuur en aandag voldoen aan die hoë vlak van gehalte wat aan Suid-Afrikaanse neute toegedig word.
Die pekanneutbedryf in Suid-Afrika is ’n snelgroeiende, winsgewende landbousektor wat sterk gerig is op uitvoer. Daar is ’n bestendige buitelandse vraag en goeie pryse vir plaaslike produsente.
Suid-Afrika se voorkeurtoegang tot die Chinese mark met 0%-doeaneregte word nou inwerking gestel. Hierdie voorkeurmarktoegang bied ’n belangrike strategiese geleentheid vir Suid-Afrika om uitvoermededinging te versterk en marktoegang vir landbou-, industriële en begunstigde produkte uit te brei.

Die nat seisoen vereis meer sorg tydens die droog-en-oesproses. Foto: Isabel van Tonder
Van 1 Mei tot 30 April 2028 sal kwalifiserende Suid-Afrikaanse uitvoer baat vind by hul doeaneregte ingevolge hierdie skema, onderhewig aan voldoening aan die toepaslike tariefskedules en oorsprongreëls.
Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging, sê die ontwikkelinge kan die diversifiseringstrategie van sy departement aanvul, wat daarop gemik ls om die veerkragtigheid van die Suid-Afrikaanse ekonomie te versterk.
Sappo sê die die takke hang swaar aan die pekanneutbome en dit is altyd ’n aanduiding van ’n besonderse goeie oes.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

