On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Wêreldbyedag beklemtoon druk op bestuiwers, byeboere

───   ELSABÉ RICHARD 11:59 Wed, 20 May 2026

Wêreldbyedag beklemtoon druk op bestuiwers, byeboere | News Article
Baie meer byeboere word benodig. Foto: Pexels/Kashif Shah

Suid-Afrika se toenemende vraag na byebestuiwingsdienste plaas ál meer druk op bye sowel as byeboere.

Elize Lundall-Magnuson van die Landbounavorsingsraad het tydens ’n webinaar ter viering van Wêreldbyedag (20/05) die belangrike rol van bye in voedselproduksie beklemtoon. Sy het ook die uitdagings uitgestippel waarmee die land se byebedryf te kampe het.

Andiswa Jass, Gautengse landboudepartementshoof, het benadruk sonder bye sal daar geen landbou wees nie. Vanjaar se tema is: Bee Together for People and the Planet.

Die tema dui op bye se belangrike rol in voedselsekerheid, biodiversiteit en die volhoubaarheid van die planeet, sê Jass.

Lundall-Magnuson vertel bestuiwing in tonnelboerderystelsels kan byekolonies onder geweldige spanning plaas omdat die insekte tot een omgewing beperk word.

“Wanneer die bye binne ’n tonnel geplaas word, is hulle agter ’n net en dus heeltemal binne daardie tonnel afgesonder,” sê sy. Byeboere meld dat hulle tot 30% van hul kolonies verloor tydens bestuiwingswerk in tonnelstelsels, veral in bessieproduksie. Die kolonies word baie swak wanneer hulle op die bessies werk.

Bestuiwing is waar die geld lê

Die vinnige uitbreiding van makadamiaboerdery in provinsies soos Mpumalanga het die behoefte aan bestuiwingsdienste verhoog. “Almal plant makadamias,” sê Lundall-Magnuson. Voormalige piesang- en lietsjieplase word ál meer in makadamiaboorde omskep.

Bye is noodsaaklik vir die produksie van gehalte-makadamianeute. Suksesvolle bestuiwing lei tot groter en gesonder vrugte.

Bestuiwingswerk plaas egter intense druk op bye en byeboere omdat die werk seisoenaal is, reis vereis en grootliks afhanklik is van goeie verhoudings tussen uiteenlopende produsente, nie net dié wat slegs met bye boer nie.

Lundall-Magnuson spoor ervare en kommersiële byeboere aan om nuwe toetreders tot die bedryf te mentor namate die vraag na bestuiwing aanhou groei. “Ons het baie meer byeboere nodig.”

Boere met geskikte grond kan gerus veilige plekke vir byekorwe beskikbaarstel. “Kom ons ondersteun ons byeboere,” vra sy. “Hulle is die hart van die bedryf”.

Sy bedank byeboere vir hul bydrae tot voedselsekerheid. “Julle bring die kos na ons tafel toe.”

OFM Agri/Elsabé Richard-May sm

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.