Agriculture
NAMPO ’26 bekragtig landbou se veerkragtigheid─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 21 May 2026
Die stof het skaars gaan lê ná nog ’n geslaagde NAMPO Oesdag, of Graan SA beplan reeds aan nog drie groot geleenthede.
NAMPO Kaap word van 9 tot 12 September op Bredasdorp gebou, waarna die aandag terugskuif na NAMPO Park buite Bothaville vir NAMPO ALFA van 2 tot 3 Oktober. Dis ook waar die volgende NAMPO Oesdag vir 11 tot 14 Mei beplan word.
Vanjaar se Oesdag het weer bevestig dat dit die grootste buitelug landbouhandelstentoonstelling in die Suidelike Halfrond is en een van die belangrikste landboubyeenkomste ter wêreld.
Die tema was Veerkragtigheid deur Innovasie. Oor die bestek van vier dae het 81 822 besoekers deur die hekke gestroom. Meer as 910 uitstallers het die jongste landboumasjinerie, tegnologie, insette, dienste en innovasies aan produsente en belanghebbendes vanuit die hele landbouwaardeketting ten toon gestel.

Die lugruim bo NAMPO was baie bedrywig met 311 vliegtuie wat besoek afgelê het. Foto: Graan SA
Die lugruim bo NAMPO was ewe bedrywig. Altesaam 311 vliegtuie en 100 helikopters het besoekers na en van NAMPO Park vervoer. Ten spyte van die swaar reënval in die aanloop tot die skou wat groot druk op die terrein en omliggende padinfrastruktuur geplaas het, is die geleentheid suksesvol aangebied.
Toyota SA het ’n wêreldrekordpoging aangedurf met altesaam 1 545 Hilux-bakkies wat na die gebied gelok is en tydelik verkeersvloei rondom die geleentheid beïnvloed het.
“Hoewel die verkeersophopings verstaanbare frustrasie vir sommige besoekers veroorsaak het, waardeer ons opreg die geduld en ondersteuning van die publiek,” sê Dirk Strydom, bestuurder van landbou-ekonomie en bemarking by Graan SA. “Ons is ook trots dat NAMPO só ’n unieke wêreldklas-rekordpoging saam met die Oesdag kon aanbied.”
Danie Minnaar, Senwes-voorsitter, sê vanjaar se NAMPO bewys weer die veerkragtigheid en aanpasbaarheid van Suid-Afrikaanse landbou onder moeilike ekonomiese en klimaatsomstandighede.

Tegnologie en landbou vorm ’n vennootskap en word 'n baie belangrike rolspeler. Foto: Graan SA
“Die toestande voor die skou was uiters uitdagend; tog het die span ’n uitstaande NAMPO gelewer. Landbou kan trots wees op hierdie week.”
Die voortdurende bek-en-klouseer-uitbreking, tesame met siektebeheermaatreëls, het beduidende uitdagings vir die veebedryf geskep en groot druk op uitstallers en organiseerders geplaas. Uitstallers het innoverende benaderings tot deelname gevolg deur alternatiewe uitstalmetodes.
NAMPO ’26 het ’n sentrale platform gevorm vir belangrike gesprekke. Hoëvlakbesprekings en gesprekke tussen georganiseerde landbou, die regering, finansiële instellings, landbouondernemings en bedryfsrolspelers is met groot welslae aangebied.
In besprekings is beklemtoon hoe vinnig ontwikkelende meganisasie, presisielandbou, digitale boerderystelsels en outomatisering die aard van landbouwerk verander en ’n dringende behoefte aan nuwe tegniese vaardighede dwarsoor die sektor skep.
Goeie terugvoer van uitstallers het weer sterk sakebetrokkenheid in die hele waardeketting bevestig. “NAMPO bly een van die belangrikste platforms vir landboubesigheid,” sê Richard Krige, Graan SA-voorsitter. “Die gehalte van gesprekke, innovasie en netwerkvorming (tydens die Oesdag) bevestig die veerkragtigheid en langtermynpotensiaal van Suid-Afrikaanse landbou.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
