Agriculture
Bek-en-klouseer hou Vrystaatse veebedryf in sy greep─── ISABEL VAN TONDER 08:35 Sat, 23 May 2026
Veeboere is onder geweldige druk in die Vrystaat namate bek-en-klouseer verder versprei. Daar is tans 593 bevestigde gevalle.
Daar is vier nuwe gevalle geïdentifiseer in die omgewing van Bethlehem, Boshof en Thaba Nchu. Die departement van landbou en landelike ontwikkeling het die inenting van beeste in die betrokke gebiede geprioritiseer. Die uitbrekings kom in 19 munisipaliteite voor.
Die departement doen ‘n beroep op landbouers om streng biosekuriteitsmaatreëls te handhaaf. Geen diere binne ’n radius van 10 km van die besmette gebiede mag vervoer word nie.
Gevalle per munisipaliteit
- Kroonstad: 111
- Heilbron: 93
- Sasolburg: 61
- Frankfort: 74
- Bethlehem: 60
- Warden: 40
- Qwa Qwa: 28
- Welkom: 43
- Ladybrand: 46
- Smithfield: sewe
- Fauresmith: agt
- Bloemfontein: drie
- Thaba Nchu: twee
- Bultfontein: tien
- Boshof: sewe
Die skielike styging in getalle is omdat die departement nou aangemelde gevalle en kliniese gediagnoseerde vee aandui.

Daar is bewegingsbeperkings op die besmette plase ingestel . Foto: Facebook
Minstens 563 806 beeste van die nasionale kudde is reeds met die entstowwe van Biogeneses en Dollvet ingeënt. Alle entstof wat deur die staat toegedien word, is gratis.
In ooreenstemming met die Staatskoerant Nr. 51512 van 13 Junie 2025 en die Dieresiektewet (Wet 35 van 1984) doen die departement ’n beroep op alle boere, afslaers en spekulante om die beweging van gehoefde diere te beperk.
Volg streng biosekuriteitsmaatreëls en enige nuwe vee moet vir 28 dae in afsondering gehou word. Hou rekord van jou vee en meld enige verdagte gevalle onmiddellik aan by die staatsveearts.
Gevalle van bek-en-klouseer wat nie gerapporteer word nie, is ’n groot bekommernis vir die departement. As gevalle nie aangemeld word nie, veroorsaak dit probleme met die beplanning en voorsiening van entstof aan die besmette gebied en kan dit daartoe lei dat te min entstof daaraan toegewys word.
Boere moet ook onthou die beweging van diere onder kwarantyn sonder die nodige dokumentasie is ’n misdaad. Die departement vra boere en belanghebbendes om saam te werk in die bekamping en verspreiding van die siekte.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

