On Now
Weekends 09:00 - 13:00
The Central SA Top 40 Laurika
Show Background
NEXT: 13:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Yvette
Listen Live Streams

Agriculture

Agri SA: Samewerking noodsaaklik te midde van landbou-uitdagings

───   ELSABÉ RICHARD 10:00 Sat, 30 May 2026

Agri SA: Samewerking noodsaaklik te midde van landbou-uitdagings | News Article
Samewerking is die enigste oplossing vir landbou se uitdagings. Foto: Facebook/Agri SA

Biosekerheid, vloedskade en plattelandse veiligheid is van die grootste uitdagings waarmee Suid-Afrikaanse boere te kampe het.

Willem de Chavonnes Vrugt, Agri SA-president, sê die uitbreking van bek-en-klouseer is een van die grootste bekommernisse in die veebedryf. “Die biosekerheidsrisiko en die impak wat dit het op die veebedryf, is massief.”

Meer entstowwe is dringend nodig, meen hy, en dat beter samewerking tussen alle belanghebbendes noodsaaklik is om die situasie te verbeter.

Die onlangse oorstromings in die Oos- en Wes-Kaap het ook groot skade veroorsaak, sê hy. Dit is nie net korttermynoeste wat geraak word nie, maar ook infrastruktuur wat op lang termyn herstel sal moet word. “Massiewe verliese is gely en dit gaan vir ’n lang tyd gevoel word.”

Die oplossing vir baie van die uitdagings lê in samewerking tussen boere, organisasies en staatsinstellings. “Daar waar daar goeie samewerking is en waar daar aan verhoudings gewerk word, word die beste resultate gelewer”.

Agri SA se struktuur, wat van plaaslike boereverenigings tot provinsiale en nasionale vlak strek, help om probleme op grondvlak te identifiseer en oplossings op nasionale vlak te ondersteun.

Sy rol as president van Agri SA verskil grootliks van sy vorige rol as president van Agri Noordwes. Die nuwe pos vereis dat hy ’n breër perspektief moet hê oor die uiteenlopende uitdagings waarmee produsente oor die land heen te kampe het. 

Agri SA is ook opgewonde oor nuwe tegnologie wat gebruik word om data oor veiligheid en sprinkaanuitbrekings beter te bestuur.

Daar is dikwels ’n tekort aan beskikbare data om korrekte inligting te versprei tussen verskillende organisasies. Die doel is om data makliker toeganklik te maak sodat hulpbronne meer doeltreffend aangewend kan word, sê hy. “Almal gaan wen as ons beter data het.”

Hy wil graag produsente bemoedig wat deur oorstromings en ander uitdagings geraak word. “Ons verstaan die probleem en hulle is nie alleen nie. Die oplossing om aan die ander kant uit te kom is om deur ons strukture saam te werk.”

OFM Agri/Elsabé Richard-May sm dg

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.