On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Soektog na Suid-Afrika se beste lam begin eersdaags

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 01 Jun 2026

Soektog na Suid-Afrika se beste lam begin eersdaags | News Article
Die TV-reeks Lamb Champs begin weer eersdaags en fokus op die kuns van skaapboerdery. Foto: Facebook

Die dokumentêre reeks, Lamb Champs, se tweede seisoen op kykNET begin Woensdag, 10 Junie om 20:00.

Hierdie reeks van vyf episodes plaas die kollig op die mense agter Suid-Afrika se skaapboerdery, die families, stories en hul opofferings in die bedryf. Seisoen 2 van Lamb Champs: Die kuns van skaapboerdery, bou voort op die sukses van die eerste reeks, maar verhoog die omvang, diepte en intensiteit van die kompetisie.

“Lamb Champs gaan oor meer as net die lekkerste lam, dit gaan oor mense, stories en die ongelooflike deursettingsvermoë agter elke boerdery. Hierdie seisoen wys hoe kompleks en kunsgerig moderne skaapboerdery werklik is,” sê Morné du Toit, regisseur. 

Die vier boere is Hennie Jonker, JP Nel, Louis Botha en Sybrandt Venter. Foto: Saai

Nóg ‘n eerste vir die reeks is die streekwenners wat uiteindelik teen mekaar meeding in ’n nasionale eindstryd om gekroon te word as die kampioen van Suid-Afrika se beste lam. 

Die finale beoordeling is meer kompleks en omvattend as ooit tevore, met streng kriteria wat nie net smaak beoordeel nie, maar sluit ook in op die hoef, op die haak en laboratoriumontledings.

Uitnemendheid

Hierdie nuwe formaat verhoog die spanning en plaas elke deelnemer se vernuf, konsekwentheid en vermoë om onder druk uitnemendheid te lewer onder die vergrootglas.

Die organisasie, Saai, stigter van Lamb Champs, voel dat die nuwe seisoen kykers die geleentheid bied om die mense, plase en streke agter daardie gehalte beter te leer ken.

“Lamb Champs wys vir Suid-Afrika dat uitstekende lamsvleis nie toevallig ontstaan nie, dit begin by familieboere wat met kennis, dissipline en trots produseer.”

Minki van der Westhuizen, aanbieder van Lamb Champs, en Ine Bester, operasionele bestuurder van Saai en projekhoof van Lamb Champs .Foto: Saai

“Vir Saai is dit belangrik, want dit gaan daaroor om boere ’n geloofwaardige platform te gee, die waardeketting te verkort en verbruikers weer met die oorsprong van hul kos te verbind.

“Wanneer mense die stories agter die produk verstaan, bou ons nie net aan ’n sterker handelsnaam  vir lamsvleis nie, maar ook aan groter waardering en beter geleenthede vir Suid-Afrika se familieboere,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Trotse vennote Pick n Pay en Toyota ondersteun weer die reeks se verbintenis tot volhoubare familieboerdery en ondersteun die boere en gemeenskappe wat die hart van Suid-Afrika se skaapbedryf vorm. 

OFM Agri/Isabel van Tonder dg

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.