On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Boere betaal duur prys vir toenemende veediefstal

───   KEKELETSO MOSEBETSI 11:35 Mon, 01 Jun 2026

Boere betaal duur prys vir toenemende veediefstal  | News Article
Veediefstal is lankal nie meer net ’n kleinskaalse opportunistiese misdaad nie. Foto: OFM Nuus

Kommer heers oor veediefstal in Suid-Afrika nadat dit boere in die afgelope boekjaar meer as R1 miljard uit die sak gejaag het.

Volgens die polisie se jongste misdaadsyfers is altesaam 5 117 gevalle in die vierde kwartaal van die 2025/2026-boekjaar aangemeld. Dit bring die jaarlikse totaal op 23 251 aangemelde sake te staan.

Die burgerregteorganisasie AfriForum sê die verliese weens veediefstal kom op ’n tydstip wanneer boere reeds onder geweldige druk verkeer weens die voortslepende bek-en-klouseer-krisis en stygende brandstofkoste.

‘Afname van 9,8%’

Hennie Bekker, AfriForum se streekkoördineerder vir die Mpumalanga Hoëveld en samesteller van die organisasie se opleidingsprogram vir die bekamping van veediefstal, sê hoewel polisiesyfers ’n afname van 9,8% in aangemelde veediefstalsake toon vergeleke met dieselfde tydperk in 2024/2025, weerspieël die syfers nie die volle omvang van die probleem nie.

“Die voorkoms van veediefstal is beslis hoër as wat die misdaadstatistieke aandui, maar omdat boere se vertroue in die polisie se veediefstaleenhede 'n laagtepunt bereik het, word die misdaad nie meer aangemeld nie. Dit lei uiteraard tot onderrapportering van dié misdaad,” sê hy.


Talle voorvalle word nooit aangemeld nie, sê hy, en die syfers op sigself kan nie die verwoestende finansiële uitwerking op boere voldoende weerspieël nie.

Volgens konserwatiewe ramings wat deur AfriForum verskaf is, beloop die direkte verlies van gesteelde vee tans sowat R15 000 per bees, R2 500 per skaap en R3 000 per bok.

Gemeet aan die 2025/2026-syfers oor veediefstal is minstens 72 709 skape, 50 805 bokke en 49 775 beeste landwyd gesteel. Kleiner getalle hoenders, varke, donkies, perde en wild is ook as gesteel aangemeld.

Bekker sê die direkte finansiële verliese weens gesteelde vee beloop meer as R181 miljoen vir skape, R152 miljoen vir bokke en R746 miljoen vir beeste. “Dit is ’n gesamentlike direkte verlies van meer as R1,08 miljard,” sê hy.

Hy waarsku dat veediefstal in ’n hoogs georganiseerde misdadige bedryf ontwikkel. “Veediefstal is lankal nie meer net ’n kleinskaalse opportunistiese misdaad nie. Dit het nou ’n gesofistikeerde misdaad geword waarin sindikate en selfs ook polisielede na bewering betrokke is.”

Sterker ingryping is dringend nodig om die landbousektor en voedselsekerheid in die land te beskerm. “Boere voer ’n moedige stryd om die land se mense te voed.

“Daarom is hernude ywer en politieke wil noodsaaklik om hierdie misdaad te bekamp in belang van die landboubedryf en elke burger in die land.”

Die Vrystaat en Noordwes is onder die provinsies wat reeds geruime tyd met die uitdagings van veediefstal worstel. Jabu Mbalula, Vrystaatse LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, het voorheen gesê veediefstal bly een van die prioriteitsmisdade in die provinsie se misdaadvoorkomingstrategie.

Dit bly ’n ernstige bron van kommer, veral langs die grens met Lesotho.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi dg

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.