On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Meer BKS-entstowwe vir SA, hoop op vinniger inenting danksy private sektor

───   ELSABÉ RICHARD 12:14 Mon, 01 Jun 2026

Meer BKS-entstowwe vir SA, hoop op vinniger inenting danksy private sektor | News Article
John Steenhuisen, minister van landbou. Foto: Facebook: Departement van landbou

Geen bees het nog ’n tweede dosis bek-en-klouseer-entstof (BKS) gekry nie.

Die Biogénesis Bagó sowel as Dollvet entstof het ’n oliebasis, wat dit langer doeltreffend maak as dié met ’n waterbasis, wat vroeër deur die landboudepartement gebruik is. Oliegebaseerde entstowwe bied beskerming vir tot ses maande, in vergelyking met vier maande vir water-gebaseerde entstowwe.

“Die doelwit is nie om te wag tot die ses maande verstryk het nie, maar om die diere so gou moontlik weer in te ent en te probeer om die tydsverloop tussen die eerste en tweede inenting te vernou,” het John Steenhuisen, minister van landbou, Maandag (1/6) op ’n mediakonferensie oor BKS gesê.

Steenhuisen nie gelukkig oor tempo van inentings

“Ek sal nooit tevrede wees met die tempo tensy dit onmiddellik en intyds is nie,” sê hy. Daarom is die uitdaging nou om soveel moontlik entstowwe so gou moontlik toe te dien.

Dit kan bereik word deur die hulp van die private sektor, meen hy. “Red Meat Industry Services ontvang R1,5 miljoen en die Rooivleisprodusenteorganisasie R500 000, en dit word juis gedoen om die pas van inentings te versnel”.

Die landboudepartement het ook die hulp bekom van dieregesondheidtegnici, wat reeds in KwaZulu-Natal gehelp het om ’n groot getal beeste in te ent.

SA kry nóg entstowwe

Die land se BKS-inentingsveldtog kry verdere momentum danksy die ontvangs van nóg 3,5 miljoen dosisse entstof. Altesaam 13,5 miljoen is sedert Februarie ingevoer om die nasionale reaksie op die uitbreking te versterk.

Die departement sê elke nuwe besending dra by tot die voortgesette pogings om die siekte te bekamp, en die verspreiding te beperk en doeltreffend te bestuur.

Steenhuisen het Argentinië vroeër vanjaar besoek om ’n bestendige voorraad BKS-entstowwe te verseker. Hy het ook gesprek gevoer met Argentinië se biosekerheidsagentskap oor hoe hy die virus kan bedwing ná inenting. Argentinië is al 30 jaar BKS-vry.

Steenhuisen meen SA kan baie leer by dié land om ook BKS-vry geklassifiseer te word deur die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid danksy inenting.

OFM Agri/Elsabé Richard-May dg

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.