Agriculture
Uitrol van entstof in Noord-Kaap bemagtig boere om self te ent─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Fri, 05 Jun 2026
Entstof gaan beskikbaargestel word aan enige boer in die Noord-Kaap.
Volgens RPO NK is lidmaatskap van dié organisasie nie ’n vereiste nie en word boere in die provinsie voortaan bemagtig om self die entstof toe te dien.
Volgens RPO moet boere hul privaat veeartse kontak en versoek dat hulle voorkomend wil inent, die getal diere en op watter plase dit geskied, alle diere wat ingeënt word moet gebrandmerk wees en boere moet op die RMIS-stelsel geregistreer wees en ’n GLN-nommer verkry.
Diere moet ook ’n naspeurbare ICAR- goedgekeurde oorplaatjie inhê wat peutervry is en ’n unieke nommer opgelaser hê. Die plaatjie kan enige kleur wees en kan ’n visuele of elektroniese oorplaatjie wees.

Diere wat ingeënt word, moet gebrandmerk wees en die korrekte oorplaatjies hê. Foto: Pexel.com
Nog vereistes is dat boere op ’n bestuurstelsel geregistreer moet word en ’n lys met vrae beantwoord. Boere is verantwoordelik vir alle veeartskoste, maar die entstof is steeds gratis.
Veeartse moet geregistreer wees en ’n lys saamstel van boere in hul gebied (plaasnaam en GLN-nommer), wat voorkomend wil inent, en ook die getal diere. Veeartse hoef nie eers deur die direkteur van veeartsenykundige dienste goedkeuring te verkry om inentings te doen nie.
Hoewel sommige veeartse self die entstof sal wil toedien, kan hulle ook in toesighoudende hoedanigheid toelaat dat die boer self inent en dokumentasie voltooi.

Behoorlike rekordhouding is baie noodsaaklik tydens die inentingsproses Foto: Pexel.com
Nadat die veearts die lys ingedien het by die RPO NK se kantoor, moet die veearts registreer op die RMIS se entstofportaal en sy bestelling plaas. Die entstowwe word as geheel bestel. RMIS sal dan kontak maak met die veearts om sy bestelling af te haal.
Ná inenting moet die veearts die toediening van die entstof op die RMIS-stelsel aanteken. Die nodige dokumentasie moet dan voltooi word sodat die RPO NK die nodige terugvoer kan gee aan die provinsiale direkteur van veeartsenykundige dienste asook aan die nasionale RPO-kantoor.
Dit is uiters noodsaaklik dat terugvoerlyste so spoedig moontlik en korrek voltooi word, anders kan die gevaar bestaan dat entstof teruggehou kan word as gevolg van foutiewe inligting.
RPO NK beklemtoon ’n strategie moet steeds gevolg word om die distrikte met ’n aktiewe uitbreking eerste van entstof te voorsien.
Elke produsent en veearts word ook gevra om die nodige prosesse te volg en so die inwerkingstelling van die inentingsveldtog so glad moontlik te laat verloop.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
