Agriculture
Huidige strategie teen BEK onvoldoende, waarsku Vrystaat-Landbou─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 10 Jun 2026
Die huidige strategie-model is ontwerp vir lande wat reeds vry van bek-en-klouseer is en slegs geïsoleerde uitbrekings ervaar, nie vir ‘n situasie soos Suid-Afrika s’n nie, volgens Vrystaat-Landbou.
“Daar is geen manier waarop ons die bek-en-klouseer-virus gaan oorwin met ‘n risiko-gebaseerde model nie. Lande soos Argentinië, Bolivia, Brasilië en Uruguay het suksesvolle uitbrekingsbeheer deur gestruktureerde, sone-gebaseerde inentingsveldtogte,” sê Friedl von Maltitz, vise-president van Vrystaat-Landbou (VL).
“Dit behels dat alle vee binne ‘n bepaalde sone vinnig ingeënt word, met ‘n opvolg- of skraagdosis binne twee tot ses weke.”

Daar is eenvoudig nie genoeg mannekrag om betyds die inentings te doen nie. Foto: Pexel.com
Hy voeg by dat sistematiese inenting – van een kant van ‘n sone na die ander – noodsaaklik is om effektiewe kudde-immuniteit teen verdere verspreiding te skep.
Die huidige benadering in Suid-Afrika, waar hoofsaaklik slegs positiewe plase en omliggende gebiede geteiken word, is volgens VL onvoldoende.
“Teen die tyd dat staatsveeartse plase bereik, het die virus reeds verder versprei. Daar is eenvoudig nie genoeg mannekrag onder staats- en privaatveeartse en dieregesondheidstegnici om betyds voor die uitbrekingskurwe te bly nie.

Volgens VL is daar geen gestruktureerde plan vir inenting teen BEK in plek nie. Foto: Pexel.com
VL is verder van mening dat die huidige toedeling van entstowwe – hoofsaaklik aan melk-, buffel- en varkprodusente, asook voerkrale – dui op ‘n lukrake en ongekoördineerde strategie wat te veel gapings vir die virus laat om verder te versprei.
“Op hierdie stadium is daar geen sigbare, gestruktureerde nasionale plan in plek nie. Met die beskikbaarheid van meer entstof in die land, is dit nou krities dat ‘n omvattende en gekoördineerde strategie geïmplementeer word.
“Geen ander land met soortgelyke uitbrekings maak gebruik van ‘n risiko-gebaseerde model nie,” sê Francois Wilken, president van Vrystaat-Landbou.
Vrystaat-Landbou doen daarom ‘n dringende beroep op owerhede om die huidige strategie te herevalueer en ‘n doeltreffende, wetenskaplik-gefundeerde nasionale inentingsplan te implementeer om die land se veebedryf te beskerm.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
