Agriculture
Rooiwater is ’n ernstige bosluisoordraagbare siekte─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 15 Jun 2026
Rooiwater is een van die belangrikste siektes wat beeste in Suid-Afrika affekteer en word deur bosluise versprei.
Dit word veroorsaak deur protosoë wat binne-in die rooibloedselle oorleef. Daar is twee soorte, die Babesia bovis (Asiatiese rooiwater) en Babesia bigemina (Afrika rooiwater) in beeste.
Rooiwater se protosoë is spesie-spesifiek. Hulle kan ook bosluiskoors in honde en perde veroorsaak, maar bogenoemde protosoë affekteer spesifiek beeste.
“Die parasiete word deur ‘n bosluisbyt oorgedra, so die teenwoordigheid van die gasheer is nodig om vespreiding van die siekte te verseker. Dit kan nie direk van bees na bees versprei word nie.”
Die parasiete vermeerder in ‘n dier se bloedstroom en kan baie vinnig die verlies van ‘n klomp rooibloedselle veroorsaak. Die gebarste rooibloedselle se hemoglobien moet deur die niere uitgeskei word en daarom is die kleur van die urine rooi.
“Hierdie diere sal dan dikwels lusteloos wees, nie vreet nie en eenkant staan,” sê dr. Hanri Bester-Cloete, staatsveearts van die Bloemfontein Veterinêre Laboratorium.
Asiatiese rooiwater se agteruitgang is baie vinnig en soms is daar geen kliniese tekens sigbaar nie. Hoë koors en teenwoordigheid van ‘n hoë bosluislading is gewoonlik die enigste leidrade.
Beeste vrek dikwels wanneer hulle na die kraal gejaag word vir behandeling. Om ’n Inspuiting met ‘n pylgeweer toe te dien sal hul stres verminder. Dis belangrik om in oorleg met jou veearts of staatsveearts die siekte aan te pak en sodoende doeltreffende beheermaatreëls toe te pas.

Bosluisbesmetting kan deur behoorlike bestuur beheer word. Foto: Dipmasterblog
Bester-Cloete sê daar is entstowwe beskikbaar, maar dit moet op droë ys koel gehou word. Voorkomende beheer gaan altyd gepaard met bosluisbeheer. Dit is die beste bestuurstegniek.
“Rooiwater is nie iets wat jy van jou plaas af gaan uitwis nie, as die siekte daar is, is hy daar. Die beste is om te leer om saam met dit te boer, en jou bestuur so aan te pas. Op plase waar dit vir die eerste keer voorkom, sien ons ‘n afname in gevalle binne drie tot vyf jaar en dit word aan natuurlike immuniteit toegeskryf.
“Dit kom nie net in die somer voor nie, maar enige tyd van die jaar. Ek wil wel vir boere hoop gee – met die regte bestuur, kan jy winsgewend saam met rooiwater in jou area boer, bestuur is die sleutel.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

