On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Lewende hawe keer terug na Nampo Alfa 2026

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 24 Jun 2026

Lewende hawe keer terug na Nampo Alfa 2026 | News Article
Nampo Alfa vind vanjaar van 2 tot 3 Oktober plaas.

Veeboere, telers, landbouers en rolspelers in die landboubedryf kan uitsien na die terugkeer van lewendehawe na Nampo Alfa.

Nampo Alfa vind vanjaar plaas op 2 en 3 Oktober op Nampo Park buite Bothaville. Lewende hawe sal deel uitmaak van die 2026-geleentheid. Dié vroëe aankondiging is belangrik vir telers en uitstallers, aangesien die voorbereiding van skoudiere maande se beplanning en voorbereiding verg.

Produsente, telers en landbouers kan dus uitsien daarna om diere op die geleentheid te sien en aan die verskillende lewendehaweprojekte deel te neem.

Die veiligheid van diere, uitstallers en besoekers bly 'n groot prioriteit Foto: Nampo Alfa

“Die beginsel bly dat slegs diere wat aan die toepaslike gesondheids -en biosekerheidsvereistes voldoen, by die geleentheid toegelaat sal word. Die doel is om deelname moontlik te maak, maar steeds die veiligheid van diere en die groter bedryf voorop te stel,” sê dr. Danie Odendaal, wat in 2018 die eerste biosekerheidsprotokol vir lewendehawegeleenthede opgestel het.

“Die veiligheid van diere, uitstallers en besoekers bly vir ons ’n groot prioriteit. Nampo Alfa is ’n belangrike platform vir die lewendehawebedryf, maar dit moet op ’n verantwoordelike wyse aangebied word.

“Daarom sal normale biosekerheidsmaatreëls steeds streng toegepas word, en verdere besonderhede oor die protokol sal met deelnemers gedeel word namate dit gefinaliseer word,” volgens dr Dirk Strydom, besturende direkteur van Nampo Alfa

Suid-Afrika se voorste platform vir lewende hawe, jag, buitelewe en landbouvaardighede het die laaste paar jaar, soos talle ander landbougeleenthede, onder die uitwerking van covid-19 en bek-en-klouseer-uitbrekings gebuk gegaan. Die uitstalling van gesplete hoefdiere op landbougeleenthede was dus ernstig beperk.

Telers kan hulle diere betyds voorberei hierdie jaar vir Nampo Alfa. Foto: Nampo Alfa

Lizette Vermaak, mede-organiseerder van die veeprogram, sê die aankondiging beteken genootskappe en telers kan nou met groter sekerheid begin beplan. “Hierdie aankondiging gee telers die geleentheid om hul diere betyds voor te berei en gee genootskappe die geleentheid om hul uitstalruimtes ten volle te benut. Dit is ’n belangrike stap vir die lewendehawe bedryf,” sê sy.

Daar word onder meer beplan aan die Old Mutual Nasionale Interras-kampioenskappe, die Nasionale Interrasvereniging se program, die Voermol Mega-os, die Farm Skills Nasionale Landbouskoleprogram, ’n Afrikaanse musiekfees en gospelfees asook Landbouweekblad se program Vir die Boer.

Die volledige program en verdere besonderhede sal binnekort op die geleentheid se webtuiste beskikbaar wees.

OFM Agri/Isabel van Tonder

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.