Agriculture
Vrystaat steeds vasgevang in wurggreep van bek-en-klouseer─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 25 Jun 2026
Die bek-en-klouseer-krisis verdiep steeds in die Vrystaat met 634 bevestigde gevalle wat aangemeld is.
Altesaam 14 nuwe gevalle is geïdentifiseer – twee in Smithfield, vyf in Boshof, vier in Bloemfontein en drie gevalle in Bultfontein. Die inenting van beeste in die betrokke gebiede is ’n prioriteit vir die landboudepartement, en bykomende entstof is bekom.
Die departement vra landbouers moet streng biosekerheidsprotokolle handhaaf. Bewegingsbeperkings is ingestel op alle plase binne 10 km van die besmette gebiede om verspreiding te voorkom.
Die meeste gevalle is aangemeld by Kroonstad (117), Heilbron (93), Frankfort (74) en Bethlehem (67). Sasol het 64, Ladybrand 46, Warden en die Goudveld 43 elk, QwaQwa 29 en Bultfontein en Boshof 15 elk. Smithfield en Bloemfontein het nege elke, Fauresmith agt en Thaba Nchu twee.

Boere moet kennis neem dat alle aansoeke om inenting ingewag en goedgekeur sal word. Foto: Facebook
Die skielike toename in gevalle is te wyte daaraan dat die departement nou aangemelde gevalle sowel as klinies-gediagnoseerde vee aandui.
Boere moet kennis neem dat alle aansoeke om inenting van vee tydens die eerste ronde van inenting goedgekeur sal word. Alle entstof wat deur die staat toegedien word, is gratis.
Kragtens Staatskoerant Nr. 51512 van 13 Junie 2025 en die Dieresiektewet (Wet 35 van 1984) vra die departement alle boere, afslaers en spekulante moet die beweging van gehoefde diere beperk, streng biosekerheidsmaatreëls volg, enige nuwe vee 28 dae lank afsonder, akkuraat boek hou en enige verdagte gevalle onmiddellik by die staatsveearts aanmeld.
Heelwat aansoeke om inenting is reeds ontvang. Landbouers word daaraan herinner dat alle aansoeke moontlik nie sal slaag met die eerste ronde van inentings nie. Aansoeke word egter aangemoedig om toekomstige hoeveelhede van die entstof te bepaal.

Boere wat versuim om gevalle aan te meld veroorsaak dat te min entstof toegewys word aan besmette gebiede. Foto: Pexel.com
Gevalle van bek-en-klouseer wat nie aangemeld word nie, is ’n groot probleem. Dit veroorsaak probleme met die beplanning en toekenning van entstof in die besmette gebiede, en kan daartoe lei dat te min entstof aan ’n spesifieke gebied toegewys word.
Die departement van landbou en landelike ontwikkeling herinner boere dat die beweging van diere onder kwarantyn sonder die nodige dokumentasie ’n strafregtelike oortreding is. Die departement vra die volle samewerking van die veebedryf om die siekte en verspreiding daarvan te beperk.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
