On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Feite misgekyk deur Itac se koringtariefbesluit – Graan SA

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 25 Jun 2026

Feite misgekyk deur Itac se koringtariefbesluit – Graan SA | News Article
Insetpryse styg vinniger as koringpryse, sê Graan SA. Foto: Pexel.com

Graan SA sê die onlangse koringtariefbesluit moet nie slegs as ’n tegniese handelsaangeleentheid beskou word nie, maar as ’n ernstige waarskuwing.

Produsentevertroue, plaaslike koringproduksie, plaaslike werksgeleenthede en Suid-Afrika se langtermyn-voedselsekerheid is in gedrang, meen Graan SA. “ ’n Tariefmeganisme wat bereken word, maar te laat in werking gestel word, kan nie as doeltreffende beskerming beskryf word nie. 

“Produsente het sekerheid, deursigtigheid en ’n stelsel nodig wat in die praktyk werk, nie net in teorie nie,” sê Richard Krige, Graan SA-voorsitter.

Volgens Graan SA het Suid-Afrika se internasionale kommissie vir handelsadministrasie (Itac) vyf belangrike feite misgekyk tydens die onlangse besluit om die dollar-gegronde koringprys op US$279/ton te behou en nie die outomatiese snellermeganisme ingestel wat deur Graan SA en die Suid-Afrikaanse graan-en-oliesadehandelsvereniging (Sacota) versoek is nie.

Graan SA stem glad nie saam met Itac oor die koringvasstelingprys nie. Foto: Pexel.com

Hoër opbrengste verbloem die werklike waarskuwingsteken volgens Graan SA en het Itac gefokus op verbeterde opbrengste en produksiegroei. Aangeplante hektare vertel ’n heel ander verhaal.

Die dollar-gegronde verwysingsprys weerspieël nie plaasvlakekonomie nie en Graan SA stem nie saam met Itac dat die huidige prys voldoende beskerming bied en winsgewendheid ondersteun nie.

Insetkoste styg vinniger as koringpryse, sê Graan SA. Sy ontleding toon koringpryse hou nie tred met insetkostedruk nie, veral wat kunsmis, brandstof en gewasbeskermingskoste betref nie.

Invoerpariteit weerspreek die gevolgtrekking dat plaaslike produsente ’n prysvoordeel bo ingevoerde koring behou het. Graan SA se ontleding toon plaaslike produsentepryse het konsekwent onder invoerpariteit verhandel wanneer bemarkings- en opbergingskoste in ag geneem moet word.

Volgens Graan SA word gehaltekoring verwag, maar nie beloon nie. Itac het op produksiegroei gefokus, maar die gehalte-prysprobleem misgekyk. Daar word van Suid-Afrikaanse produsente verwag om hoëgehaltekoring vir meulenaars en bakkers te produseer, maar die mark- en beleidsomgewing beloon nie die koste en risiko van daardie gehalte nie.

Volgens Graan SA word gehaltekoring verwag maar glad nie beloon nie. Foto: Pexel.com

Die organisasie se onmiddellike versoeke is:

  • ’n volledige verduideliking van die bewyse en berekeninge wat die besluit ondersteun;
  • ’n dringende, tydgebonde oplossing vir vertragings in tariefimplementering;
  • ’n heroorweging van of die US$279-verwysingsprys steeds toepaslik is;
  • ’n gehalte-aangepaste vergelyking tussen ingevoerde en plaaslik geproduseerde koring;
  • deursigtige markpremies vir gehalte-eienskappe wat deur meulenaars en bakkers vereis word;
  • beter belyning tussen handelsbeleid, landboubeleid en lokaliseringsdoelwitte;

“ ‘Local is lekker’ moet ook op koring van toepassing wees. Die regering kan nie praat oor die ondersteuning van plaaslike produksie terwyl ’n handelsmeganisme toegepas word wat die kommersiële saak vir plaaslike koringproduksie verswak nie,” sê Krige.

Volgens Krige is die vraag nie of Suid-Afrika kan bekostig om koringprodusente te ondersteun nie, die vraag is eintlik of Suid-Afrika kan bekostig om hulle te verloor?

OFM Agri/Isabel van Tonder sm

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.