On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Gemeenskaplike groentetuin deel sy oes met hulpbehoewendes

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 02 Jul 2026

Gemeenskaplike groentetuin deel sy oes met hulpbehoewendes | News Article
Die Ikageng-groentetuin lewer nie net spinasie nie, maar ook uie, aartappels en groenbone. Foto: Pexels.com

Die Ikageng-tuin, ’n gesamentlike groentetuinprojek van die Noga’s Post-nedersetting op Thaba Nchu, het ’n belangrike mylpaal behaal.

Die groentetuin kon die laaste paar maande elke maand 400 bossies spinasie lewer aan die voedingskemas van twee plaaslike skole en bejaardes in die gemeenskap. Die verkope wat deur die projek behaal word, is ’n belangrike mylpaal op die projek se pad na volhoubaarheid en winsgewendheid.

Dié projek spruit uit samewerking tussen AfriForum, Saai (Southern African Agri Initiative) en Gaboilelwe Moroka, die kgosi (hoof) van die Barolong Boo Seleka-kultuurgemeenskap.

Spinasie, uie, aartappels en groenbone

Vanaf Januarie tot Junie het die projek reeds 2 230 bossies spinasie opgelewer, waarvan 1 750 bossies verkoop en 480 bossies aan hulpbehoewendes geskenk is. Altesaam 710 kg ander groente, waaronder uie, aartappels en groenbone, is ook sedert Januarie deur hierdie gemeenskapsprojek geoes en verkoop.

Segomotso Itholeng, kgosi Gaboilelwe Moroka en Mafusi Ntsane is deel van die Ikageng-tuinprojek. Foto: Saai/AfriForum

Kgosi Moroka kyk met dankbaarheid terug oor die ses jaar sedert die ontstaan van die projek. “Voedselsekerheid is ’n vredeswaarborg, en ons as die Barolong Boo Seleka is daarop toegespits omdat ons die belangrikheid daarvan verstaan.

‘Geen gemeenskapslid hoef honger te ly’

“Daar word gesê, ’n reis van ’n duisend kilometer begin met ’n enkele tree. Ek is uiters trots op hierdie gemeenskapslede. Geen gemeenskapslid hoef honger te ly of in armoede te berus nie.”

Sedert die projek ses jaar gelede op die been gebring is, het die gemeenskap waarlik eienaarskap daarvan geneem, sê Leon Lourens, ontwikkelingskoordineerder van Saai. "Die naam Ikageng, waarop die betrokke gemeenskapslede besluit het, beteken ‘om jouself te bou’ en weerspieël die persoonlike ontwikkeling en vooruitgang wat die betrokkenes deur hul harde werk en toewyding vermag.

“Hierdie kultuurgemeenskap het goeie mense en grond met landboupotensiaal.”

Gemeenskapslede ondergaan formele opleiding

Gemeenskapslede het boonop deur hul betrokkenheid by die projek, ’n formele opleidingsprogram, aangebied deur die Sentrale Universiteit van Tegnologie, die Universiteit van die Vrystaat en die Global University of Lifelong Learning, ondergaan.

Die woord Ikageng beteken ‘om jouself te bou’. Foto: Saai/Afriforum

“Ons is trots op ons gemeenskapslede en hoop ons verhaal sal ook ander gemeenskappe inspireer om geleenthede wat gebied word om hulself te help, aan te gryp,” sê Mafusi Ntsane van Noga’s Post. “Ons wys wie ons is deur wat ons doen en bereik.”

AfriForum en Saai is by die Ikageng-tuin betrokke deur hul landbou-ontwikkelingsinkubator, Resilient Regenerative Agricultural Initiative (RRAIN).

OFM Agri/Isabel van Tonder cvdw

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.