On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Johrné
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Graan SA sien uit na vennootskap met nuwe minister van landbou

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 06 Jul 2026

Graan SA sien uit na vennootskap met nuwe minister van landbou | News Article
Binnelandse koringproduksie wat nie ondersteuning kry nie, hou ’n risiko in. Foto: Pexel.com

Graan SA sê die organisasie sien uit daarna om ’n konstruktiewe en produktiewe vennootskap met minister Aucamp te vorm.

Die organisasie hoop dié vennootskap sal ’n betekenisvolle bydrae lewer tot die ondersteuning van Suid-Afrika se graanprodusente, landbouwaardekettings en landelike ekonomieë, sê Richard Krige, voorsitter. “Ons verwelkom minister Aucamp in die landbousektor en sien daarna uit om nou saam met hom te werk aan die talle geleenthede en uitdagings wat Suid-Afrikaanse landbou in die gesig staar.

“Georganiseerde landbou is gereed om saam met die minister en sy departement te werk om die sektor se mededingendheid, winsgewendheid en volhoubaarheid te versterk.”

Willie Aucamp, die nuutaangestelde minister van landbou en landelike ontwikkeling. Foto: Facebook

Graan SA spreek ook sy waardering uit teenoor minister John Steenhuisen vir sy diens aan die sektor, asook vir die positiewe werksverhouding wat tydens sy termyn as minister van landbou met georganiseerde landbou en die departement van landbou gevestig is.

Die organisasie waardeer die samewerkende benadering wat onder sy leierskap ontstaan het, en wens hom alle voorspoed toe in sy nuwe rol as adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging.

Die graansektor sal voortgaan om op minister Steenhuisen se insette te steun, veral ten opsigte van dringende kwessies soos die koringtariefbedeling en die beskerming van plaaslike koringprodusente, wat toenemend aan onbillike internasionale mededinging blootgestel word.

Binnelandse koringproduksie wat nie die nodige ondersteuning kry nie, hou die risiko in van verdere agteruitgang in ekonomiese aktiwiteit, werksgeleenthede en beleggings in landelike gemeenskappe – veral in die Wes-Kaapse koringproduserende streke.

Aucamp neem die leiding oor die landbouportefeulje oor op ’n tydstip waarop graanprodusente geweldige druk ervaar. Die sektor worstel tans met lae internasionale kommoditeitspryse, stygende insetkoste en ’n sterker rand, wat produksie al hoe minder winsgewend en volhoubaar maak.

Graanprodusente ervaar tans geweldige druk met lae kommoditeitspryse. Foto: Pexel.com

“Suid-Afrikaanse graanprodusente kan meeding met die beste ter wêreld, mits hulle toegang het tot moderne tegnologieë, gesonde beleidsraamwerke en billike marktoestande.

“Ons glo minister Aucamp se praktiese kennis van landbou en landelike ontwikkeling plaas hom in ’n gunstige posisie om ’n sterk vennootskap met georganiseerde landbou te bou en die sektor se volle potensiaal te ontsluit,” sê Krige.

Graan SA bly daartoe verbind om op ’n konstruktiewe wyse saam met die regering en alle belanghebbendes te werk om ’n florerende, mededingende en volhoubare graanbedryf te help verseker – een wat werklik tot voedselsekerheid, ekonomiese groei en werkskepping in Suid-Afrika bydra.

OFM Agri/Isabel van Tonder sm

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.