Agriculture
Kaap vier groei en sterk vennootskappe─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 08 Jul 2026
Produsente, landbou-ondernemings, navorsers en diensverskaffers in die hele landbouwaardeketting maak gereed vir vanjaar se Nampo Kaap 2026 op Bredasdorp Park in die Overberg.
Vanjaar se tema is Saam Groei Ons, ’n viering van die vennootskappe tussen produsente, die bedryf en gemeenskappe wat Suid-Afrikaanse landbou vorentoe dryf. Danksy 600 uitstalruimtes en parkering op meer as 32 ha sal besoekers van 9 tot 12 September toegang hê tot meer as 500 uitstallers wat die nuutste landboutegnologie, produkte, dienste en innovasies ten toon stel.
“Produsente in die wintergraangebiede boer in ’n omgewing waar elke besluit al hoe meer kompleks raak,” sê Dirk Strydom, besturende direkteur van Nampo. “Produktiwiteit, winsgewendheid, insetkoste, marktoegang en beleidsekerheid vorm almal deel van dieselfde gesprek.

Boerboelvertonings sal vanjaar deel vorm van Nampo Kaap se program. Foto: Facebook
“Nampo Kaap bied aan produsente die geleentheid om uit isolasie te tree, met die breër waardeketting te skakel en praktiese antwoorde te soek wat hul ondernemings en vertroue vir die seisoene wat voorlê, kan versterk.”
Lewendehaweprodusente trotseer ook steeds die uitwerking van bek-en-klouseer, wat geldelike druk verhoog, veebeweging ontwrig en toegang tot uitvoermarkte beïnvloed. Daarbenewens het oorstromings in Mei wydverspreide infrastruktuurskade in die Wes-Kaap veroorsaak.
Hierdie werklikhede beklemtoon hoe blootgestel produsente nie net aan markdruk is nie, maar ook aan dieregesondheidsrisiko’s, infrastruktuurswakhede en uiterste weersomstandighede.

Meer as 500 uitstallers sal vanjaar dienste, innovasie en produkte bekendstel. Foto: Facebook
Besoekers kan vanjaar uitsien na georganiseerde landbousessies soos Nasie in Gesprek, Food for Mzanzi-gesprekke, die Ikusasa Water Wise Centre en die Seminaar oor Beskermde Groenteproduksie.
Die ruiterprogram sluit die Suid-Afrikaanse Lipizzaners in, Mounted Games – dikwels beskryf as die tienkamp van ruitersport – en demonstrasies deur Griffins Perde-boogskiet, waar ruiters spoed, vaardigheid en akkuraatheid ten toon stel.
Hoewel geen beeste, skape of bokke sal deelneem nie, kan die pluimvee-uitstalllings besoek word waaraan talle telersgenootskappe deelneem.
Werkhonde op plase is van groot waarde. Goed opgeleide skaaphonde, Suid-Afrikaanse lugmaghonde en die Suid-Afrikaanse Boerboelvereniging sal ’n toegewyde rasvertoning lewer.
Die Vrouetent is vanjaar uitgebrei om meer besoekers te verwelkom. Die program bied uiteenlopende inspirasie, uitstekende kos, geloof, musiek en boeiende gesprekke aan vir besoekers.
Nampo 2026 is ’n platform wat saak maak: Dit bring kennis, tegnologie en mense op een plek bymekaar, “veral in ’n streek waar produsente onder werklike druk verkeer,” sê Strydom.
Kaartjies vir Nampo Kaap 2026 is reeds aanlyn beskikbaar op die bestaande kaartjieplatform.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
