Agriculture
Graan SA herbevestig verbintenis tot voedselsekerheid─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 14 Jul 2026
Graan SA onderstreep die reg op voedsel is ’n gedeelde verantwoordelikheid van die regering, produsente, verwerkers, kleinhandelaars, insetverskaffers, navorsers, die burgerlike samelewing en verbruikers.
Die organisasie het die afgelope week deelgeneem aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se nasionale ondersoekverhoor na Suid-Afrika se voedselstelsels. Dr. Tobias Doyer, Graan SA se uitvoerende hoof, het dié organisasie se produsentgefokusde perspektief aangebied.
Hy het die sentrale rol beklemtoon wat graan- en oliesaadprodusente in Suid-Afrika se voedselsekerheid, plattelandse ekonomie en die bekostigbaarheid van stapelvoedsel speel.

Graan SA het gewaarsku boere kan nie alleen verantwoordelik gehou word vir hoë pryse nie. Foto: Pexel.com
“Voedselsekerheid begin waar voedsel geproduseer word. Produsente funksioneer in landelike gemeenskappe waar boerdery werk, bestaansmiddele en plaaslike ekonomieë ondersteun,” het hy gesê.
Graan SA het beklemtoon voedselbekostigbaarheid moet oor die volle waardeketting verstaan word. Die prys wat aan ’n produsent betaal word, is nie dieselfde as die prys wat ’n verbruiker op die rak betaal nie, en produsente bepaal nie finale voedselpryse nie.
Graan SA het gewaarsku teen die oorvereenvoudigde persepsie dat boere alleen vir hoë verbruikersvoedselpryse verantwoordelik gehou kan word.

Minder as 20% van die finale prys van 'n brood is aan die koringprys gekoppel. Foto: Pexel.com
Doyer het daarop gewys dat, in die geval van brood, minder as 20% van die finale prys van ’n brood aan die koringprys gekoppel is, terwyl die balans deur maal, bak, vervoer, energie, verpakking en kleinhandelverwante koste beïnvloed word.
Produsente is dikwels die koste-absorbeerders in die voedselstelsel. “Stygende brandstof-, kunsmis- en energiekoste plaas ernstige druk op plaasvlak-lewensvatbaarheid.”
Hy het ook die uitwerking van infrastruktuur op voedselbekostigbaarheid beklemtoon en daarop gewys dat swak paaie, spoorbeperkings en lang vervoerafstande vanaf produksiegebiede na verbruikersentrums koste tot die voedselstelsel toevoeg.
Wat handel en koringproduksie betref, het hy herhaal die organisasie ondersteun oop en mededingende markte, maar dat daar nie van plaaslike produsente verwag kan word om op ongelyke terme mee te ding teen produkte uit lande waar produsente swaar gesubsidieer word nie.

Produsente is dikwels die koste-absorbeerders in die voedselstelsel. Foto: Pexel.com
“Om hongersnood, bekostigbaarheid en voedingsuitdagings op te los vereis ’n gebalanseerde en bewysgebaseerde benadering. Suid-Afrika benodig ’n voedselsisteem wat verbruikers beskerm, produsente ondersteun en die hele waardeketting in staat stel om doeltreffend en verantwoordelik te funksioneer.”
Graan SA bly verbind tot opbouende betrokkenheid met die kommissie, die regering en alle belanghebbendes in die voedselstelsel om die progressiewe verwesenliking van voldoende, bekostigbare en voedsame voedsel vir alle Suid-Afrikaners te ondersteun.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
