Agriculture
Die stille opbrengsdief: stresbestuur in gewasproduksie─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 20 Jul 2026
Sitrusprodusente is vertroud met uitdagings soos boorde wat verskroei in die hitte van tot 45 °C en swaar reën, wat vrugset in tafeldruifwingerde ontwrig.
Weeruiterstes wat gewasse onder erge fisiologiese stres plaas het een van die ergste opbrengsbeperkende faktore geword. “Stres is die stille opbrengsdief, doeltreffende gewasbeskerming bly noodsaaklik, maar dit is nie meer genoeg op sy eie nie,” sê Martin Booyens, tegniese bemarkingspesialis vir biologiese gewasoplossing by InteliGro. " ’n Meer holistiese benadering is nodig.”
Klimaatsverandering het die produksieomgewing ingrypend verander, sê hy. Een van die grootste bedreigings vir opbrengste is nie insekte of siektes nie, maar die plant se onvermoë om omgewingstres te hanteer.
Voorbereiding raak net so belangrik soos reaksie namate wisselvallige weerstoestande eerder die norm as uitsondering word.

Martin Booyens, tegniese bemarking spesialis vir biologiese gewasoplossings by InteliGro. Foto: Isabeau Joubert
Die gevolge is reeds duidelik in Suid-Afrika se produksiegebiede. Gereelde hittegolwe in tafeldruifgebiede soos Kakamas en De Doorns lei tot swak vrugset, ongelyke trosontwikkeling en laer opbrengste. Onverwagte reën gedurende kritieke groeistadiums skep nog produksie-uitdagings.
In die afgelope sitrusseisoen het Valencia-boorde aansienlike vrugval ervaar nadat bome tydens kritieke ontwikkelingsfases onder stres gekom het, terwyl temperature van meer as 45 °C op Citrusdal, sonbrand, oksidatiewe stres en swakker vruggehalte, asook uitpakpersentasies veroorsaak het.
‘Ensiem-aktiwiteit neem af’
“Dit is alles fisiologiese stresreaksies. Wanneer stres toeslaan, skakel plante van produksie na oorlewing oor. Energie wat normaalweg groei, blomvorming en vrugontwikkeling sou aandryf, word bloot gebruik om die plant aan die lewe te hou. Fotosintese vertraag, ensiem-aktiwiteit neem af en skadelike reaktiewe suurstofspesies begin plantselle beskadig,” sê Booyens.
Skade hou egter nie bogronds op nie. Hoë temperature onderdruk voordelige grondmikrobes wat verantwoordelik is vir voedingstofomsetting en gesonde wortelontwikkeling, terwyl versouting dit al moeiliker maak vir plante om water en noodsaaklike voedingselemente soos stikstof, kalsium en kalium op te neem.

Suksesvolle vrugset in pere wys hoe tydige bestuur opbrengspotensiaal ondersteun Foto: Isabeau Joubert
Produsente se eerste reaksie is dikwels om nog chemiese produkte by te voeg, sê Booyens. “Daardie produkte het beslis hul plek, maar hulle is meestal ontwerp om ’n spesifieke probleem op te los, nie noodwendig om die plant se fisiologiese balans te herstel nie.
“Tydsberekening is die belangrikste faktor. Teen die tyd dat sigbare simptome verskyn, het die fisiologiese skade waarskynlik reeds plaasgevind.”
Dis belangrik om saam met opgeleide gewasadviseurs te werk, want die produsent koop nie net produkte nie, maar belê in ’n gesonder produksiestelsel.
“Ken jou grond, jou water en gewasse. Goeie gewasbesluite begin by goeie inligting. Gereelde grond, water en blaarsapanalises haal die raaiwerk uit bestuursbesluite en verseker jou bestuursbesluite is gegrond op wat wérklik op jou land gebeur.”
OFM Agri dg
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

