Agriculture
Strategiese ooreenkoms ondersteun lewendehawebedryf─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 22 Jul 2026
Red Meat Industry (RMIS) en Biogénesis Bagó Suid-Afrika het ’n strategiese samewerkingsooreenkoms aangegaan om die lewendehawebedryf te ondersteun.
Die ooreenkoms is gesluit met die oog op die ondersteuning, voorkoming en bestuur van bek-en-klouseer (BKS). Dié veesiekte is een van die ernstigste bedreigings vir dieregesondheid, handel en voedselsekerheid.
Die samewerking maak deel uit van RMIS se breër werk om die rooivleisbedryf te ondersteun in die reaksie op BKS, die verbetering van koördinering dwarsdeur die waardeketting en die versekering dat produsente en veeartse toegang het tot hulpmiddels en inligting wat hulle nodig het om die siekte doeltreffend te bestuur.

Dié veesiekte is een van die ernstigste bedreigings vir dieregesondheid. Foto: Facebook
Deur saam met dieregesonheidsvennote soos Biogenesis Bagó te werk wil RMIS die bedryf toerus om vinniger op te tree, beter te reageer en die uitwerking van BEK op produsente te verminder.
Biogénesis Bagó is ’n wêreldleier in biotegnologie vir dieregesondheid, produktiwiteit en dierewelsyn. Die maatskappy ontwikkel, vervaardig en bemark wêreldklasprodukte om dieregesondheid te ondersteun. Dié maatskappy word ook wêreldwyd erken as leier in die voorkoming en beheer van bek-en-klouseer en is ook een van die grootste verskaffers van hondsdolheid-entstowwe.

Ooreenkomste moet volhoubaarheid van veeproduksie versterk. Foto: Pexel.com
“Ons fokus is daarop om die bedryf te ondersteun om bek-en-klouseer vinnig en doeltreffend te bestuur. Deur rolspelers in die bedryf met tegniese kundigheid te verbind, wil ons bewustheid, gereedheid en praktiese raksievermoë regdeur die waardeketting versterk,” sê Dewald Olivier, uitvoerende hoof van RMIS.
Deur wetenskaplike kundigheid en bedryfservaring te kombineer, wil die inisiatief beter koördinering moontlik maak, reaksie op grondvlak verbeter en die volhoubaarheid van veeproduksie versterk.
Volgens Daniel Helou, streeksdirekteur van Biogénesis Bagó, weerspieël hierdie samewerking die belangrikheid daarvan om oor die hele waardeketting saam te werk om komplekse dieresondheidsuitdagings deur wetenskap en samewerking in Suid-Afrika op te los.
“Hierdie werk versterk die werk wat reeds binne Suid-Afrika se dieregesondheidsektor gedoen word en dra by tot ’n meer gekoördineerde en ingeligte benadering tot die bestuur van BKS.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
