On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Graan SA verskil van JSE se sojaboonmodel

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 23 Jul 2026

Graan SA verskil van JSE se sojaboonmodel | News Article
Sojaboonprodusente het reeds beperkte toegang tot inligting oor kontantmarkbasisse. Foto: Pexel.com

Graan SA is teleurgesteld en verskil van die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) se besluit om nie die model met veelvuldige verwysingspunte (MRP-model) vir die berekening van sojaboonliggingsdifferensiale te behou nie.

Die JSE het bedryfsbelanghebbendes oor etlike jare versoek om geloofwaardige alternatiewe vir die bestaande enkelverwysingspuntmetodologie voor te stel, aangesien dié metode nie die geografiese variasie in sojaboonvraag akkuraat verreken nie. Die MRP-model is oor twee bemarkingseisoene op die lewerbare sojaboontermynkontrak getoets. 

Die JSE het bevestig dat die model volgens vyf voorafbepaalde kriteria beoordeel sou word, waaronder handelsaktiwiteit, volumes, oop posisies, die aantal aktiewe markdeelnemers, die herlewering van JSE-silo-ontvangsbewyse, asook terugvoer van belanghebbendes en hul markervaring.

Graan-en oliesaadprodusente verkeer onder ernstige druk weens klein marges Foto: Cropwatch

Graan SA is bekommerd dat die JSE se finale besluit en motivering nie voldoende deursigtige redes aan die hand van die ooreengekome evalueringsraamwerk verstrek nie. 

Die organisasie is veral besorg oor die onvermoë om die inligting te bekom wat nodig is vir die akkurate en doeltreffende berekening van sojaboonliggingsdifferensiale.

Die JSE het verklaar dat vertroulike vraag-en-aanbodinligting weens kommersiële sensitiwiteit en Popia-verwante oorwegings nie bekendgemaak kon word nie en dat verouderde inligting gevolglik gebruik is. Dit laat vrae ontstaan oor of dié databeperkings konsekwent toegepas is toe die twee metodologieë vergelyk is.

Produsente het reeds beperkte toegang tot inligting oor kontantmarkbasisse. 

Wanneer noodsaaklike markinligting onder ’n klein aantal deelnemers in die waardeketting gekonsentreer is, kan produsente nie onafhanklik bepaal of liggingsdifferensiale die werklike kommersiële marktoestande akkuraat weerspieël nie.

Graan- en oliesaadprodusente verkeer onder ernstige druk weens klein marges, stygende insetkoste en aansienlike produksierisiko’s. Hulle kan nie verdere ondoeltreffendhede bekostig wat voortspruit uit ’n metodologie wat moontlik nie die geografiese verspreiding van sojaboonproduksie en -verbruik voldoende weerspieël nie, sê Tobias Doyer, uitvoerende hoof van Graan SA.

Die MRP-model is oor twee bemarkingseisoene getoets Foto: Facebook

Die JSE het aangekondig dat hy na ’n enkelverwysingspunt wil terugkeer en het voorgestel dat Randfontein vanaf die bemarkingseisoen wat op 1 Maart 2027 begin, deur Driefontein vervang word. Markdeelnemers is genooi om teen 14 Augustus 2026 kommentaar op dié voorstel te lewer.

Volgens Graan SA kan die voorgestelde terugkeer na ’n enkelverwysingspunt, of die verskuiwing van daardie verwysingspunt, nie ondersteun word sonder ’n omvattende en deursigtige beoordeling van die moontlike finansiële gevolge vir produsente in alle sojaboonproduserende streke nie. 

Dié moontlike verwringings is veral kommerwekkend in ’n mark wat deur gekonsentreerde verwerkingskapasiteit en ongelyke toegang tot kommersiële inligting gekenmerk word.

OFM Agri/Isabel van Tonder mvh

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.