Agriculture
Strawwe handelstoestande laat NWK-wins daal─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 27 Jul 2026
NWK het ’n omset van R5 882 miljoen behaal – ’n marginale afname van 1,8%.
Wins ná belasting het R5 miljoen beloop, teenoor R115 miljoen in 2025. Die wesensverlies is grootliks toe te skryf aan twee eksterne faktore: ’n Onverwagte verskuiwing in Noordwes se mieliemark, wat die verhaalbaarheid van premies verminder het, en ’n sonneblomoes met lae olie-inhoud wat die hele oliesaadbedryf geraak het.
“Die finansiële resultate vir die jaar tot 30 April, was teleurstellend,” sê Pieter Jansen van Vuuren, voorsitter van NWK Beherend. “Die 2025-reënseisoen is gekenmerk deur ’n midsomerdroogte, met rekordhoë temperature van Januarie tot middel Februarie.
“Die daaropvolgende buitengewoon hoë reënval … einde Februarie en Maart het die graangehalte van beide mielies en sonneblom wesenlik negatief beïnvloed.”

Die buitengewoon hoe reënval vanjaar het die sonneblom-oes nadelig geraak. Foto: Facebook
Punte wat uitgesonder moet word, is die verbeterde inkomste op plaasvlak, danksy hoër graanopbrengste met ’n verbetering van 100% in resultate teenoor die vorige jaar in die handelsegment. NWK het ’n strategie geïmplementeer wat op die optimalisering van die brandstofbesigheid en verbeterde logistiek gefokus het ten einde produsente verder op plaasvlak te ondersteun.”
Die finansiëledienste-segment het bevredigend presteer. Resultate het met 19,4% toegeneem, hoofsaaklik weens die doeltreffende bestuur van oninbare skuld oor jare. Die groei van AgTech@NWK, met ’n fokus op tegnologie, hommeltuigtoerusting en dienste, was noemenswaardig.
Die 2024/25 sonneblomoes het ’n ondergemiddelde olie-onttrekking gelewer. Dit het ’n verlies ná belasting van R65 miljoen vir Epko Oil Seed Crushing tot gevolg gehad.
NWK se graanverhandelingsafdeling het die seisoen betree op grond van ’n markbeskouiing dat die vraag na witmielies – sowel plaaslik as uit buurlande – sterk sou bly en dat die premies deur verkope en gunstige prysverskille verhaal sou word. Namate die seisoen gevorder het, het uitvoergeleenthede weens politieke inmenging deur buurlande afgeneem.
Swakker prestasie van die kommoditeite-segment weerspieël hoofsaaklik die meer konserwatiewe waardasiebeginsels en ’n stadiger uitlaaitempo. Volgens Jansen van Vuuren het die laat reëns van 2025 nie nét skade veroorsaak nie.

Produsente kon die nuwe seisoen aanpak met goeie grondvog en rekord-oeste. Foto: Facebook
Produsente kon die nuwe seisoen met ’n goeie oordrag van grondvog aanpak. Daar word in die 2025/26-produksiejaar ’n rekordoes en hoër oordragvoorrade verwag.
Heersende eksterne risiko’s soos El Niño-toestande en geopolitieke spanning soos die oorlog, kan die handelsegment raak.
Ondanks die swakker netto resultate staan NWK steeds skouer aan skouer met sy belanghebbendes deur die landbou se sikliese aard heen. Op grond van die finansiële resultate vir 2025/26, sal ongeveer R9,4 miljoen deur middel van die NWK-lojaliteitsprogram aan klante teruggegee word.
OFM Agri sm
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
