Agriculture
Persiese skape help Gautengse Lamb Champ met louere wegstap─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 29 Jul 2026
Gerhard en Jani Lourens van LGL Farming Co in Gauteng is as die wenners van Lamb Champs Pretoria 2026 gekroon.
Meer as 6 000 besoekers het by Harlequins-rugbyklub saamgetrek vir die vlagskipgeleentheid op die Lamb Champs-kalender. Dit was ’n strawwe kompetisie en 110 skaapboere uit alle uithoeke van die land het deelgeneem.
Tydens hierdie geleentheid is uitsonderlike lamsvleis, familieboerdery, vermaak en Suid-Afrika se ryk landbou-erfenis gevier.
Die vyf topboere was Gerhard en Jani Lourens van Gauteng met persies, Daan en Tharin Malan van Bethal met dormer en dan drie Vrystaters: Jaco Muller met vleismerino gekruis met rooi persies, Tsaats Hattingh met dohne-merino en At Bibbey met merino.

Van links is Ine Bester, bedryfsbestuurder Saai, Jani Lourens, Gerhard Lourens, Minki van der Westhuizen, en Tessa Chamberlain, hoof van strategiese vennootskappe van Pick n Pay. Foto: Saai
“Lamb Champs gee familieboere die geleentheid om in die kollig te staan en die uitsonderlike gehalte van hul produkte ten toon te stel,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai. “Elke boer wat deelgeneem het, het tot die sukses van die geleentheid bygedra en gehelp om verbruikers ’n beter begrip te gee van die vaardigheid, toewyding en sorg agter die lamsvleis op hul borde.”
Die deelnemende boere se lamsvleis is deur onafhanklike beoordelaars volgens streng kriteria geëvalueer, insluitend voorkoms, aroma, sagtheid, tekstuur, sappigheid, mondgevoel en die algehele eetervaring.
Die geleentheid het gevolg op die aankondiging van die eerste Lamb Champs Invitational, wat op 31 Oktober in Pretoria aangebied word. In dié internasionale kompetisie sal ’n span van tien Suid-Afrikaanse boere teen tien Namibiese boere meeding.
Gerhard en Jani Lourens van LGL Farming Co in Gauteng is as wenners gekroon met hul persie-lam Foto: Facebook
Volgens Rossouw is die Invitational die volgende groot hoofstuk in die Lamb Champs-verhaal. “Ons wil ’n internasionale verhoog skep waar boere as nasionale verteenwoordigers erken word en waar landbou-uitnemendheid, koskultuur en nasionale trots saamkom.
“Wanneer Suid-Afrika teen Namibië te staan kom, sal dit nie net gaan oor watter boer die beste lam produseer nie, maar oor watter land die trofee huis toe neem.
Lamb Champs word deur Pick n Pay geborg wat Lamb Champs-vleis in al hul korporatiewe winkels nasionaal verkoop.
Die volgende geleentheid in die nasionale reeks, Lamb Champs Bloemfontein, is op 29 Augustus in die Toyota-stadion.
OFM Agri/Isabel van Tonder sm\
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
