On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

NWK se Ysters vir Landbou sweet vir landelike veiligheid

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Fri, 31 Jul 2026

NWK se Ysters vir Landbou sweet vir landelike veiligheid | News Article
Die veldtog bereik op 22 November ’n hoogtepunt tydens die Isuzu Ironman 70.3 Mosselbaai. Foto: Facebook

Ná die sukses van die eerste Ysters vir Landbou toe R1 miljoen vir landelike veiligheid ingesamel is, wil NWK se ystermanne- en vroue weer ’n verskil maak.

Ondernemings, boereverenigings, gemeenskapsorganisasies en individue word uitgenooi om hul kant te bring en deel van die projek te word, sê Alf White, groephoof- finansiële beampte van NWK wie se geesteskind die projek is. “Die Ysters vir Landbou-inisiatief wys wat moontlik is wanneer mense en organisasies vir ’n gemeenskaplike doel saamwerk.

“Dit bevorder nie net gesonde leefstyle en spanwerk nie, maar dra ook direk by tot veiliger landelike gemeenskappe regoor Suid-Afrika.”

NWK se Ysters vir Landbou-inisiatief het in 2025 ’n indrukwekkende R1 miljoen vir landelike veiligheid ingesamel. Foto: NWK

Die veldtog bereik op 22 November ’n hoogtepunt tydens die Isuzu Ironman 70.3 Mosselbaai, terwyl geld ingesamel word vir Agri-Securitas, Agri SA se landelike veiligheidsfonds. Duisende produsente, landbouwerkers en hul gesin het reeds baat gevind by projekte wat deur dié trustfonds ondersteun word.

Hierdie projekte rus landbougemeenskappe toe met voorkomende veiligheidsmaatreëls en infrastruktuur asook traumaberading.

Deelnemers kan as individuele atlete of as deel van ’n aflosspan deelneem. Die wedren bestaan uit ’n swemafstand van 1,9 km, ’n fietsrit van 90 km en ’n hardlooproete van 21,1 km deur die asemrowende natuurskoon van Mosselbaai en die Tuinroete.

NWK het reeds inskrywings vir 20 aflosspanne en tien individuele deelnemers vir die byeenkoms aangekoop. Deelnemers wat van NWK se vooraf aangekoopte inskrywings gebruik maak en onder NWK se naam deelneem, verbind hulle daartoe om minstens twee keer die koste van die inskrywingsgeld in te samel.

Almal kan deelneem en betrokkenheid is nie net beperk tot swem, fietsry of hardloop nie. Foto: Facebook

Deelname is egter nie beperk toy swem, fietsry of hardloop nie. Die projek kan ook ondersteun word deur geld deur die platform Given-Gain in te samel, deelnemers of spanne te borg, ’n direkte skenking aan Agri Securitas te maak en die bewusmakings- en geldinsamelingsprojekte te ondersteun.

Agri Securitas is ’n geregistreerde openbare liefdadigheidsorganisasie wat goedgekeur is om Art 18A-kwitansies vir kwalifiserende skenkings uit te reik.

Vir meer inligting en deelname, fondsinsameling- of borgskapgeleenthede, kontak Jacques de Wet, NWK se bemarkingsbestuurder.

OFM Agri/Isabel van Tonder sm

•Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.