Agriculture
Aanvullings maak verskil in veeproduksie─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 03 Aug 2026
Vitamiene en minerale speel ’n onmisbare rol in die gesondheid, groei, vrugbaarheid en algehele produksie van vee.
Baie van hierdie voedingstowwe kan deur natuurlike weiding en voer voorsien word. Die gehalte van die grond, droogte, seisoenale veranderinge of verhoogde voedingsbehoeftes kan egter ’n beduidende invloed op diere se prestasie hê.
“Net soos mense, het diere ook spesifieke minerale en vitamiene nodig sodat die liggaam optimaal kan funksioneer,” sê dr, Hanri Bester-Cloete, staatsveearts van die Bloemfontein veterinerê kliniek.
“Daar is egter ‘n fyn balans tussen ‘n oormaat van sommige minerale wat ook tot vergiftiging en dood kan lei. Die antwoord is dus om nie voor die voet aan te vul nie.” Daar is verskeie faktore wat in ag geneem moet word wanneer daar bepaal word watter vitamien- en mineraalaanvullings gegee moet word soos produksie stadium (jonk, lakterend, groeifase of dragtig) en die veldtipe (winter of somer, nat of droë seisoen en grondtipe).
Bester-Cloete sê ‘n tekort aan koper kan dadelik gesien word aan ‘n dowwe haarkleed en swart diere kan ‘n rooi skynsel in hul hare ontwikkel. ‘n Jodiumtekort kan veroorsaak diere word met ‘n vergrootte skildklier gebore.
Diere kan pica ontwikkel as daar ’n tekort aan kalsium, kalium, magnesium en fosfaat is. Hulle sal vreemde voorwerpe soos bene begin eet om die minerale te probeer aanvul. In meer akute gevalle kan ‘n tekort aan kalsium lei tot melkkoors in melkbeeste en kan die diere binne ure vrek.

Daar is verskeie lekke vir vee beskikbaar om tekorte aan te vul. Foto: Affordable solutions
Daar is minder groen plante in die winter en kan herkouers vitamien A in hul lewer stoor. As die winter egter baie lank is kan hulle ‘n tekort aan vitamien A ontwikkel. Tekens daarvan is diere wat maklik ooginfeksies ontwikkel of selfs in subtiele tekens soos nageboortes wat vassit nadat diere gekalf het. ‘n Tekort aan vitamien B kan lei tot senuweesimptome by vee.
“Inspuitbare aanvullings kan weefselskade veroorsaak as dit baie koud is en met dosering is daar die gevaar van verstikking; die veiligste is lekblokke wat al hierdie elemente aanvul en diere kan dan self besluit hoeveel hiervan hulle wil inneem.”
“Onderhoudslekke word gegee wanneer die gehalte van die veld afneem, produksielek vir wanneer groei aangemoedig word tydens dragtigheid, laktaksie en herbesetting en mineraallek in die somer wanneer gras se gehalte swak is.”
Een van die grootste foute is wanneer boere die swak gehalte van die veld of onvoldoende gras met vitamien- of mineraalaanvullings wil probeer regmaak.
Sy sê boere moet met ’n plan werk en diere gereeld monitor. “Jy sal dalk nie ‘n reuseverskil met aanvulling sien nie, maar jy sal probleme met volgehoue tekorte ontwikkel.”
