On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

SA Preserveerkampioenskap: Van perskesnippers tot blatjang van spekboom

───   ISABEL VAN TONDER 13:17 Tue, 04 Aug 2026

SA Preserveerkampioenskap: Van perskesnippers tot blatjang van spekboom | News Article
’n Beoordelaar het selfs vertel hoe perskesnippers trane in haar oë gebring het. Foto verskaf

Die wenners van die tweede Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskap word binnekort bekend gemaak.

Die kampioenskap is aangebied deur Agri-Expo en is buite Durbanville gehou. Sowat 85 vervaardigers en ’n rekord van 700 ingelegde vrugte- en groenteprodukte is ingeskryf. 

Die inskrywings is deur ’n paneel van 61 beoordelaars in meer as honderd klasse beoordeel: van konfyte, marmelades, blatjang en piekels tot pesto’s, olywe en ander vernuwende skeppings.

“Die rekordgetal inskrywings is ’n bewys van die vertroue wat produsente in hierdie kompetisie het,” sê Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo. “Ons is besonder trots op die beduidende toename (vergeleke met) verlede jaar se 456 inskrywings.

Die ingelegde vrugte is van hoogstaande gehalte. Foto verskaf

“Die groei bevestig die kampioenskap bied ’n waardevolle platform vir sowel gevestigde as opkomende vervaardigers om hul produkte teen die hoogste standaarde te laat beoordeel, terwyl dit ook verbruikersvertroue in Suid-Afrikaanse preserveerprodukte versterk.” 

Agri-Expo, wat vanjaar sy 195ste bestaansjaar as landbougenootskap vier, het die kampioenskap verlede jaar gevestig om uitsonderlike gehalte te erken, entrepreneurs te ondersteun en die kuns van voedselpreservering te bevorder.

Chris Fourie, Agri-Expo-president, meen die sukses van die kampioenskap lê nie net in die magdom inskrywings nie, maar ook in die gehalte en integriteit van die beoordeling. “Die kundigheid van ons beoordelaars gee geloofwaardigheid aan hierdie kampioenskap.”

Daar is ook gespog met ingelegde aarbeie. Foto verskaf

’n Blindeproeproses is gevolg om die produkte te beoordeel deur ’n uiteenlopende paneel van kundiges uit die kos-, gasvryheids-, kleinhandel- en landbousektor. 

Die paneel was beïndruk met die uitsonderlike gehalte van sowel tradisionele, outentieke produkte as vernuwende skeppings, wat verrassende geurkombinasies en hedendaagse leefstyltendense weerspieël.

Susina Jooste, koskenner en opleidingspesialis, was besonder beïndruk deur die hoë vlak van mededinging en vernuwende produkte.

“Ons sien produkte wat jou aan ouma se kombuis herinner – ’n beoordelaar het selfs vertel hoe perskesnippers trane in haar oë gebring het – maar ook waagmoedige nuwe skeppings wat vars denke weerspieël, soos groen olywe gevul met kasjoeneute, gedroogde gesoute olywe, spekboomblatjang en ingelegde jalapeños in ’n soet stroop.”

Sommige mense het begin om produkte in te maak om hul inkomste aan te vul. Vir ander was dit ’n manier om waarde tot vars produkte toe te voeg of ’n passie in ’n suksesvolle onderneming te omskep.

Fourie sê dit sou nie moontlik wees om die kampioenskap aan te bied sonder die ondersteuning van die breër landboubedryf nie. 

OFM Agri/Isabel van Tonder dg

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.