Agriculture
Boere herstel self paaie terwyl padskraper 9 maande staan─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Fri, 21 Aug 2026
Vrystaat Landbou spreek ernstige kommer uit oor die swak bestuur en benutting van provinsiale padinstandhoudingsbronne.
“Terwyl boere self noodgedwonge paaie moet gelykmaak om produkte by die mark te kry, werkers te vervoer en te verseker dat noodsaaklike dienste toegang tot landelike gemeenskappe en kinders toegang tot skole kan kry,” sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, “staan staatstoerusting vir maande in onbruik langs die pad.”
Volgens Wilken is die aangeleentheid herhaaldelik via die amptelike WhatsApp-kanaal vir die Xhariep-distrik aangemeld, maar sonder enige sigbare oplossing.

Die swak paaie is tekenend van die skokkende toestand waarin die departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer verkeer. Foto: MaXdrive
’n Besoek aan die staatsmotorhawe deur ’n VL-lid op ’n Vrydagoggend om die saak op te los, het aan die lig gebring dat – na ’n soektog deur die verlate perseel – die handjie vol oorblywende werktuigkundiges wat verantwoordelik was vir die diens en instandhouding van die hele vloot geelmasjinerie, reeds besig was om te braai sodat hulle vroeg huis toe kon gaan.
“Hierdie swak bestuur van ’n staatsbate is tekenend van die skokkende toestand waarin die Vrystaatse departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer verkeer. Daar is blykbaar nie fondse om die diensverskaffer te betaal wat op die sentrale databasis vir diensverskaffers geregistreer is nie,” sê Wilken.
’n Plaaslike maatskappy in die omgewing het aangebied om die padskraper op hul laebedwa te laai en teen die helfte van die koste te vervoer na die staatsmotorhawe vir herstelwerk, maar die departement wil dit nie toelaat nie.

VL het al telkemale 'n beroep op die staat gedoen om openbare-private venootskappe te oorweeg. Foto: VL Landbou
Piet le Roux, wat tydens die VL-kongres oor infrastruktuuruitdagings gepraat het, het daarop gefokus dat dit toenemend ’n werklikheid geword het dat gemeenskappe en die privaat sektor nie meer kan aanvaar dat die staat basiese infrastruktuurdienste doeltreffend sal lewer nie.
Dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, sê die organisasie het al telkemale ’n beroep op die staat gedoen om openbare-private vennootskappe te oorweeg as ’n praktiese oplossing vir die provinsie se infrastruktuuruitdagings.
“Die departement verwys voortdurend na die vereistes van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies (PFMA) en BBSEB-wetgewing as struikelblokke. Tenders word terselfdertyd uitgereik vir hergruising en padinstandhouding.
“Dit maak min praktiese sin vir boere wat bereid is om te help. Ons lede wil boere wees, nie voltydse padkontrakteurs nie. Die instandhouding van provinsiale paaie is nie boere se verantwoordelikheid nie”.
VL sal steeds die provinsiale regering tot verantwoording roep oor sy verantwoordelikheid om paaie behoorlik te onderhou, begrotings vir dié doel aan te wend en te verseker dat die nodige hulpbronne en personeel beskikbaar is om dié mandaat uit te voer, sê Wilken.
OFM Agri sm
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
