Agriculture
Boere bekommerd oor nuwe sprake van grondonteiening─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 25 Aug 2026
Vrystaat Landbou (VL) het sy kommer uitgespreek oor die hernude politieke en wetgewende fokus op grondhervorming.
Die moontlikheid van nog grondwetlike en wetgewende wysigings terwyl Suid-Afrika reeds onder groot ekonomiese druk verkeer, wek verdere kommer. “Boere is herhaaldelik gerus gestel dat die Onteieningswet nie daarop gemik is om grondhervorming deur onteiening te dryf nie,” sê Friedl von Maltitz, vise-president van VL.
“Wanneer regeringsverteenwoordigers egter self grondhervorming en herverdeling as doelwitte van die breër wetgewende raamwerk voorhou, is dit onvermydelik dat grondeienaars en beleggers verdere onsekerheid ervaar.”

Volgens VL ontstaan die vraag wat die werklike beleidsdoelwit is. Foto: Pexel.com
Onlangse verklarings vanuit regeringskringe wek kommer. Advokaat Ngwako Maenetje, senior advokaat wat president Cyril Ramaphosa verteenwoordig, het vroeër vandeesmaand in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangevoer dat die Onteieningswet behoorlike uitvoering gee aan grondhervormingsmaatreëls in die Grondwet.
Die minister van landelike ontwikkeling het voorts aangedui verdere wetgewing, waaronder die voorgestelde wetsontwerp op billike toegang tot grond, word oorweeg om onder meer te verseker dat distrikte die demografie van Suid-Afrika weerspieël.
Dit laat die vraag ontstaan oor wat die werklike beleidsdoelwit van die nuwe onteienings- en grondhervormingsraamwerk werklik is. Von Maltitz sê verder VL ondersteun ’n regverdige, grondwetlike en ekonomies volhoubare grondhervormingsproses.
“Na ongeveer 30 jaar van grondhervorming moet Suid-Afrika egter eerlik vra watter modelle werklik werk. Daar is suksesverhale, maar ook talle gevalle waar staatsgedrewe nuwe opkomendeboer-programme nie die verwagte volhoubare produksie en ekonomiese waarde gelewer het nie.”
Gernie Botha, uitvoerende hoofbeampte van VL, sê die organisasie is ook bekommerd oor moontlike bevoegdhede van munisipaliteite om grond vir openbare doeleindes, insluitend grondhervorming, te identifiseer en te bekom.
Dit moet beoordeel word teen die agtergrond van die Ouditeur-Generaal se jongste bevindings oor ernstige bestuurs- en finansiële probleme by plaaslike owerhede.

Gepolariseerde uitsprake oor grond kan rasseverhoudings verswak. Foto: Pexel.com
VL is daarom bekommerd dat toenemend gepolariseerde uitsprake oor grond rasseverhoudings kan verswak. Volgens Von Maltitz moet grondhervorming nie as instrument gebruik word wat landelike gemeenskappe teen mekaar opstel nie. “In ’n tyd van plaasaanvalle, landelike misdaad en ekonomiese druk behoort politieke leiers eerder vertroue, samewerking en stabiliteit te bevorder.”
Die organisasie vra grondhervorming moet beoordeel word aan die hand van produktiwiteit, werkskepping, voedselsekerheid, ekonomiese volhoubaarheid en die sukses van nuwe boere, eerder as bloot die hoeveelheid grond wat oorgedra word.
“Suid-Afrika het nie nog ’n ronde van beleidsonsekerheid nodig nie. Ons benodig regsekerheid, beleggingsvertroue en ’n landbousektor wat meer mense in staat stel om suksesvol aan die ekonomie deel te neem,” sê Von Maltitz.
OFM Agri sm
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
