Agriculture
Vrystaat-boere gewaarsku teen moontlike misdaadsindikaat─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 31 Aug 2026
Vrystaatse boere word gewaarsku om hul veiligheidsmaatreëls te verskerp ná ’n reeks soortgelyke misdaadvoorvalle op plase.
Vrystaat Landbou (VL) sê voorvalle in verskeie dele van die provinsie toon ’n soortgelyke werkswyse en dieselfde sindikaat kan moontlik daarby betrokke wees. Veiligheidsrisiko-ontleder dr. Jane Buys sê die aard en omvang van die jongste voorvalle wek kommer, veral omdat die verdagtes dikwels op soortgelyke tye toeslaan.
’n Verdagte is verlede week in die omgewing van Excelsior in hegtenis geneem nadat hy na bewering probeer het om honde te vergiftig en ’n Toyota-bakkie te steel. Op Hobhouse is drie verdagtes, wat vermoedelik vanuit Lesotho optree, in verband met trekkerdiefstalle in hegtenis geneem en word hulle deur die polisiediens aangehou.

Boerderygemeenskappe moet waaksaam bly en nie verdagte optrede ignoreer nie. Foto: Pexel.com
Twee soortgelyke voorvalle het in die vroeë oggendure van 24 en 25 Augustus in die Tweespruit-gebied plaasgevind. Daar was volgens VL beweerde pogings om honde te vergiftig en ’n voertuig en trekker te steel. Buys sê twee tot drie verdagtes is gewoonlik betrokke en voorvalle vind meestal tussen 23:00 en 02:30 plaas.
In ’n afsonderlike voorval op Bothaville is 26 ongedokumenteerde buitelanders in hegtenis geneem nadat hulle na bewering onwettige mynboubedrywighede op ’n plaas uitgevoer het. VL sê dié saak maak deel uit van ’n breër misdaadpatroon wat tans in verskeie landelike gebiede van die provinsie waargeneem word.
Ander voorvalle sluit onwettige jag met honde, vee- en graandiefstal en diefstal van koperkabels, transformators, sonpompe en sonpanele in. VL vra boerderygemeenskappe om verdagte optrede of misdaad onmiddellik by die polise en hul plaaslike landelikeveiligheidskoördineerder aan te meld sodat vinniger optrede moontlik is.
Boere word ook aangemoedig om misdaad tydens maandelikse veiligheidsvergaderings aan te meld, plaaslike misdaadvoorkomingsopoptredes saam met die SAPD aan te vra en aan veiligheids- en patrollieaksies deel te neem. Voorvalle moet ook by VL aangemeld word sodat die organisasie dit met distrik- en provinsiale strukture kan opvolg en hulpbronne kan help mobiliseer.

Onwettige jag met honde neem toe, wat 'n groot gevaar is vir kleinwild en plaasveiligheid. Foto: Pexel.com
Jakkals le Roux, voorsitter van VL se landelikeveiligheidskomitee, sê samewerking, kommunikasie en gemeenskapsbetrokkenheid is noodsaaklik om plaasaanvalle en ander misdade op die platteland te bekamp. Hy vra boerderygemeenskappe moet waaksaam bly en nie verdagte optrede ignoreer nie, selfs wanneer aanvanklik geen duidelike misdaad gepleeg is nie.
VL sal intussen aanhou om geld in te samel vir veiligheidsopleiding en ander praktiese landelikeveiligheidsprojekte. Sy jaarlikse gholfdag vind op 18 September by die Ladybrand-sportklub plaas. Die opbrengs sal gebruik word om gemeenskappe beter toe te rus om risiko’s te identifiseer en op veiligheidsbedreigings te reageer.
OFM Agri sm
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
