On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Michael
Show Background
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret and John
Listen Live Streams

Agriculture

Swartland se koringprodusente in die moeilikheid

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 01 Sep 2026

Swartland se koringprodusente in die moeilikheid | News Article
Graanprodusente beleef ’n moeilike seisoen en het reën dringend nodig. Foto: Good in every Grain

Graan SA vra die regering moet dringend werk maak van bekostigbare oesversekering nadat ’n groot tekort aan reën die Swartland se koringoes onder druk geplaas het.

Graanprodusente beleef ’n baie moeilike seisoen. Daar word beraam tussen 25% en 30% van die oespotensiaal kan verlore gaan, bo en behalwe die afname in die aantal hektaar wat vanjaar geplant is.

“Die Swartland is in die moeilikheid. Dit gaan nie net oor een droë tydperk of een moeilike seisoen nie. Marges het oor etlike jare gekrimp, produksierisiko’s neem toe en produsente het min finansiële beweegruimte wanneer die reën wegbly,” sê Graan SA se uitvoerende hoof, Tobias Doyer.

Die seisoen het aanvanklik belowend gelyk. Volgens streekdata van Overberg Agri het sowat 176 mm reën in April en Mei geval, teenoor die tienjaargemiddeld van ongeveer 66 mm. Produsente het geplant, kunsmis toegedien en groot uitgawes aangegaan.

Vir droëlandprodusente gaan dit nie net oor hoeveel reën val nie. Foto: Wandile Sihlobo

Toe draai die weer. Van Junie tot Augustus het net sowat 43 mm reën geval. Die tienjaargemiddeld vir dié tyd is ongeveer 202 mm. Dit is byna 79% minder as normaal.

Vir droëlandprodusente gaan dit ook nie net oor hoeveel reën val nie. Wanneer dit val en hoe dit deur die seisoen versprei is, bepaal of die gewas sy potensiaal kan bereik. Teen die tyd dat die reën wegbly, is die geld reeds bestee aan saad, kunsmis, diesel, arbeid, finansiering en gewasbeskerming.

Terselfdertyd raak dit al duurder om koring te produseer. Syfers van ’n Swartlandprodusent wys direkte insetkoste het tussen 2016 en 2026 met sowat 65% gestyg. Die geraamde plaashekprys van koring het oor dieselfde tyd met net sowat 36% gestyg.

Graan SA vra dat bekostigbare en bruikbare oesversekering 'n landbouprioriteit word. Foto: Bayer

Dit sluit boonop nie die volle koste van masjinerie, onderhoud, arbeid, finansiering en kapitaal in nie. Boere kan hul boerderypraktyke verbeter en water beter bestuur, maar hulle kan nie reën maak nie.

Graan SA meen bekostigbare en bruikbare oesversekering moet daarom ’n nasionale landbouprioriteit word. Die organisasie vra nie dat produsente teen gewone besigheidsrisiko beskerm of ’n wins gewaarborg word nie.

Hy vra eerder vir ’n werkbare vennootskap tussen die regering, produsente, versekeraars en die landbouwaardeketting, sodat buitengewone klimaatsrisiko nie lewensvatbare boere uit produksie dwing nie.

Navorsing deur BFAP beraam dat Suid-Afrika se koringwaardeketting tussen R70 miljard en R75 miljard tot die ekonomie bydra en sowat 90 000 werksgeleenthede ondersteun. Koringprodukte word deur ongeveer 96% van Suid-Afrikaanse huishoudings gebruik.

Doyer sê die land sal uiteindelik moet besluit hoe belangrik plaaslike koringproduksie is en wat gedoen kan word om produsente in besigheid te hou.

OFM Agri sm

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.