On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Boere moet vroeg beplan vir moontlike droër plantseisoen

───   MORNÉ VAN ROOYEN 12:56 Thu, 03 Sep 2026

Boere moet vroeg beplan vir moontlike droër plantseisoen | News Article
Terwyl die lente aanbreek, soos hier in die Bothaville-omgewing, moet boere hulle voorberei op ’n droë somer wat voorlê. Foto: Marizelle Marais/Facebook Reënval in SA

Suid-Afrikaanse boere sal hul produksieplanne en insetbegrotings vroeg moet hersien namate die risiko van ’n warm, droë 2026/27-somer toeneem.

Saai sê waarskuwings van die Suid-Afrikaanse Weerdiens oor moontlike El Niño-toestande plaas groter klem op vroeë beplanning. Die komende produksieseisoen behoort omstreeks middel Oktober te begin, ná ’n nat seisoen waarin La Niña-reënval grondvogvlakke in groot dele van die somerreënvalgebied verbeter het.

Dié grondvog kan aanvanklik met plantwerk help, maar die uiteindelike opbrengs sal sterk afhang van reën vroeg in die seisoen en die verspreiding daarvan daarna. 

Die meeste somergrane en oliesade word sonder besproeiing verbou, met slegs sowat 20% van produksie wat onder besproeiing plaasvind.

Dr. Theo de Jager. Foto verskaf

Dr. Theo de Jager, Saai se direksievoorsitter, beskryf 2026 as ’n “perfekte storm” vir produsente. Boere het reeds ongekende oorstromings, bek-en-klouseer en hoë kunsmis- en dieselkoste beleef. 

’n Warm, droë somer kan nou verdere druk op produksiekoste, kontantvloei en plantbesluite plaas.

“Dit is nie ’n jaar om kanse te waag met marginale lande nie,” sê De Jager.


Produsente sal noukeurig moet besluit waar en hoeveel hulle plant, terwyl betroubare inligting oor weersvooruitsigte, waterbeskikbaarheid en insetmarkte toenemend belangrik word vir besluite voor die nuwe seisoen.

Saai waarsku onsekerheid oor water kan ook ’n rol speel. Die organisasie is krities oor voorgestelde veranderinge aan waterregte en meen politieke ingryping kan die risiko vir produsente verhoog. 

Die beskikbaarheid van voldoende water bly veral belangrik waar boere produksierisiko met besproeiing probeer beperk.

Die onmiddellike gevaar is egter veldbrande. Swaar reën vroeër vanjaar het groot hoeveelhede plantegroei laat opbou wat nou, namate toestande uitdroog, as brandstof kan dien. 

Saai raai boere aan om brandbestrydingstoerusting gereed te hou en seker te maak werkers ken veiligheidsprotokolle en brandbestrydingsplanne.

Die volgende paar weke sal groter waaksaamheid verg, sê De Jager, terwyl produsente terselfdertyd hul plantstrategieë vir ’n moontlik moeiliker somer moet finaliseer.

OFM Agri cvs

Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.