Agriculture
Suid-Afrikaanse kersies nou op pad na die Chinese mark─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 10 Sep 2026
Die minister van landbou het ’n belangrike ooreenkoms onderteken wat die kersiebedryf opgewonde maak.
Die ooreenkoms gee Suid-Afrikaanse produsente die eerste keer toegang tot die Chinese mark. “Hierdie prestasie is baanbrekend, aangesien dit die eerste keer is dat twee marktoegangsooreenkomste binne ’n jaar met China onderteken is.
“Ons waardeer China se pogings opreg om ons versoeke tot marktoegang vir SA landbouprodukte te versnel,” het Willie Aucamp gesê. Hy het die ooreenkoms saam met Chinese doeane-minister Sun Meijun onderteken.
Die minister het die finalisering en ondertekening van die kersieprotokol verwelkom as ’n bevestiging van die verbintenis om handel uit te brei en te diversifiseer ingevolge die raamwerkooreenkoms oor ekonomiese vennootskap vir gedeelde ontwikkeling, wat Suid-Afrikaanse toegang tot Chinese markte teen ’n 0% -tarief bied.

Willie Aucamp, minister van landbou, saam met Sun Meijun van China. Foto: Joylene van Wyk
Die ondertekening van die protokol sal volgens die departement groot ekonomiese voordele vir Suid-Afrika inhou, aangesien China die wêreld se grootste invoerder van kersies is. China het gedurende 2025 ongeveer 586 900 ton kersies ingevoer, ter waarde van bykans R52,8 miljard.
Aucamp het ook onlangs met sy Chinese ampsgenoot, Zhang Zhu, vergader. Albei ministers het hul lande se verbintenis herbevestig om voort te gaan met samewerking op gebiede van wedersydse voordeel. Dit sluit in biosekerheid – veral wat bek-en-klouseer betref – asook die verkryging van verdere marktoeganggeleenthede vir Suid-Afrikaanse landbouprodukte.
Aucamp het ook tydens die SA-China-vrugtehandelsakeforum, wat deur Fruit SA georganiseer was, verteenwoordigers van Chinese vrugte-invoerders ontmoet en met hulle gesprek gevoer.

China het ’n konsepooreenkoms vir die invoer van bloubessies uit Suid-Afrika voorgelê. Foto: Healthline
Die opening van die Chinese mark vir kersies sal na verwagting verdere beleggings in die land stimuleer en ongeveer 600 nuwe werksgeleenthede skep.
Aucamp meen daar is die belofte van nog goeie nuus noudat die onderhandelinge om marktoegang vir Suid-Afrikaanse bloubessies na China te verkry, in ’n gevorderde stadium is.
China het ’n konsepooreenkoms vir die invoer van bloubessies uit Suid-Afrika voorgelê en Aucamp het versoek dat die insette en onderhandelinge versnel word, met die doel om die ooreenkoms voor einde vanjaar te finaliseer.
OFM Agri sm
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
