Agriculture
TLU SA kyk ná 129 jaar vorentoe na volgende geslag boere─── 12:45 Wed, 30 Sep 2026
TLU SA vier sy 129ste bestaansjaar, maar kyk vorentoe met ’n boodskap dat georganiseerde landbou steeds ’n belangrike rol het om kommersiële boere se belange te beskerm.
Die organisasie is op 29 September 1897 as die Transvaalse Landbou-unie gestig nadat die behoefte aan ’n verenigde landboustem reeds ’n jaar tevore bespreek is. Sedertdien oorleef die organisasie verskillende regerings, wêreldoorloë, ekonomiese depressies en groot veranderings in die landboubedryf.
Dié geskiedenis is belangrik, maar die organisasie kan nie net daarop terugkyk nie, sê Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder. “Wanneer ’n organisasie 129 jaar oud word, kyk jy terug na geslagte boere wat bereid was om saam te staan, verantwoordelikheid te aanvaar en ’n organisasie te bou wat die landbouer se stem kan dra.”
Die kernfokus bly om die boer te dien en die beleidsomgewing só te beïnvloed dat kommersiële landbou ekonomies kan voortbestaan, sê Van Zyl. “Jy kyk terug en besef hoeveel regerings, wêreldoorloë en depressies oorleef is, maar die organisasie staan steeds omdat hy by sy kernfokus bly.”

Bennie van Zyl. Foto: Facebook
TLU speel reeds vroeg ’n rol in Suid-Afrika se landbougeskiedenis. Ná die Anglo-Boereoorlog help die organisasie met die heropbou van landbou en beywer hom in 1905 vir ’n Landbank, wat twee jaar daarna sy deure open. In 2002 word TLU ’n nasionale organisasie en verander die naam na TLU SA.
Die uitdaging lê nou daarin om die kommersiële boer as ’n strategiese bate te beskerm en uit te bou, meen Van Zyl. “Ons moet vir mekaar vra hoe die dag van môre moet lyk sodat ons die kommersiële boer wat kos op die verbruiker se tafel sit, respekteer, uitbou en in stand hou.”
Die regering en ander rolspelers moet daarom ’n omgewing skep waarin produsente ekonomies volhoubaar kan boer, sê hy.
TLU SA werk steeds aan kwessies soos eiendomsreg, landelike veiligheid, arbeid, water en ekonomiese beleid en probeer dié sake vanuit boere se praktiese ervaring op grondvlak benader.
“Ons stap onbevange die pad vorentoe – positief en konstruktief. Ons bou vir die toekoms en vir die nageslag, want boere is eintlik net rentmeesters van die grond. Ons moet dit reg bestuur sodat ons kinders en kleinkinders ook die voorreg kan hê om te boer,” sê Van Zyl.
Voedselsekerheid bly uiteindelik deel van dié groter prentjie. “ ’n Boer voed ’n land en is een van sy grootste bates. Sonder kos ontstaan daar baie vinnig anargie. Daarom moet ons aanhou bou, konstruktief werk en op die regte beginsels gegrond bly.”
OFM Agri cvs
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

