Agriculture
TLU SA wil met Vrystaat Landbou praat oor Rooivleisforum─── 13:20 Tue, 20 Oct 2026
TLU SA wil met Vrystaat Landbou in gesprek tree oor die nuwe Rooivleisforum, wat volgens die organisasie onsekerheid oor die verteenwoordiging van rooivleisprodusente kan veroorsaak.
Die forum, wat Vrystaat Landbou Maandag (19/10) aangekondig het, is oop vir primêre rooivleisprodusente landwyd. Die inisiatief is daarop gemik om uitdagings op grondvlak te identifiseer, bedryfsinligting te deel en produsentebelange te bevorder.
TLU SA vrees egter dat die nuwe struktuur die bestaande Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se posisie kan verswak.
Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, sê sy organisasie het ’n raadsbesluit om bestaande kommoditeitsorganisasies te ondersteun. Volgens hom behoort produsente self hul verteenwoordigers te verkies en oor bedryfsake te besluit. Ontevredenheid oor bepaalde besluite is nie noodwendig rede om nuwe strukture te stig nie.

Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder. Foto: Facebook
“Die antwoord lê nie noodwendig in die stigting van nóg ’n organisasie nie, maar in betrokkenheid, verantwoordbaarheid en die versterking van die strukture wat reeds bestaan,” sê Van Zyl. Hy moedig produsente aan om binne bestaande organisasies verandering te bewerkstellig en verkose leiers aanspreeklik te hou.
Dit is veral die landwye uitnodiging om by die Rooivleisforum aan te sluit wat TLU SA bekommerd maak. Die organisasie meen twee strukture wat dieselfde produsente probeer verteenwoordig, kan hul gesamentlike verteenwoordiging verswak en onsekerheid oor verantwoordelikhede skep. Die nuwe forum moet dus duidelik maak hoe dit met bestaande organisasies gaan saamwerk.
Prof. Andries Raath, TLU SA se Vrystaatse streekbestuurder, sê kommoditeitsorganisasies vervul gespesialiseerde rolle. Hy bevraagteken dit of parallelle strukture die bedryf werklik gaan bevoordeel. TLU SA wil daarom by Vrystaat Landbou hoor wat die forum se langtermyndoelwitte is en hoe die verhouding met die RPO en ander organisasies daar sal uitsien.
Samewerking vertrekpunt
RPO Vrystaat het intussen ook kommer uitgespreek. Luidens ’n verklaring Dinsdag (20/10) is die forum sonder voorafgaande beraadslaging met relevante bestaande rolspelers aangekondig.
Die organisasie steun in beginsel inisiatiewe wat produsente bevoordeel, maar meen samewerking en konsultasie behoort die vertrekpunt te wees.
RPO Vrystaat is in 1982 gestig en verteenwoordig produsente deur strukture in 20 streke. Die organisasie sê hy het die afgelope maande verskeie pogings aangewend om met Vrystaat Landbou in gesprek te tree. Hy is steeds bereid om met die nuwe forum en ander landbou-organisasies saam te werk.
Die organisasie waarsku bek-en-klouseer, probleme met marktoegang en ander uitdagings hou reeds finansiële gevolge in vir produsente. Nuwe inisiatiewe moet daarom duidelike voordele bied sonder onnodige duplisering, bykomende koste of administratiewe laste. Bestaande kundigheid en verteenwoordigingskanale behoort eerder optimaal benut te word.
Vrystaat Landbou voer op sy beurt aan die bek-en-klouseerkrisis het die behoefte aan ’n verenigde stem blootgelê. Die Rooivleisforum is volgens hom ’n platform om rooivleisprodusente direk met georganiseerde landbou te verbind. Lede van Vrystaat Landbou kan gratis registreer, terwyl ander produsente minstens R100 per maand of R1 200 per jaar betaal.
TLU SA beklemtoon dat bestaande kommoditeitsorganisasies nie bo kritiek verhewe is nie. Raath meen gesprekke is nodig voordat verdere onsekerheid ontstaan. Die organisasie wil sy standpunt oor die versterking van bestaande strukture aan Vrystaat Landbou oordra en vasstel hoe die forum se werksaamhede ingerig sal word.
OFM Agri cvs
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

