On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Dalk minder water vir landbou in Gauteng, Noord-Vrystaat weens El Niño

───   11:07 Mon, 09 Nov 2026

Dalk minder water vir landbou in Gauteng, Noord-Vrystaat weens El Niño | News Article
Waterbeperkings kan die landbousektor in Gauteng en die Noord-Vrystaat se voorland wees weens El NiñoFoto: Pexels/Tomás Asurmendi

Waterbeperkings kan die landbousektor in Gauteng en die Noord-Vrystaat se voorland wees weens El Niño as die verwagte droër en warmer somer die land se waterbronne onder druk plaas.

Die departement van water en sanitasie waarsku hy kan boere, nywerhede en waterverskaffers se toegelate wateronttrekkings verminder om beskikbare voorrade te beskerm. Sulke beperkings sal ingestel word waar nodig om waterbronne te beskerm wat onder druk verkeer.

Die departement vra intussen watervebruikers landwyd, maar veral in Gauteng, moet minder water gebruik soos die vraag tydens die komende somer toeneem. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel ’n groot waarskynlikheid van sterk El Niño-toestande, wat met ondergemiddelde reënval en hoër temperature gepaard kan gaan. 

Minder reën kan die invloei na damme beperk, terwyl warmer weer verdamping en waterverbruik verhoog, juis wanneer huishoudings, boerderye en ondernemings op betroubare watervoorrade staatmaak.

Die Vaaldam verskaf water aan groot dele in Gauteng. Foto: Pexels

’n Hittegolf wat reeds sy derde opeenvolgende week bereik het, verhoog volgens die departement die vraag na water in Gauteng. Die probleem word vererger deur lekkasies in munisipale verspreidingsnetwerke en buitengewoon hoë verbruik in sekere gebiede, wat die bestaande watervoorsieningstelsels verder belas.

In Gauteng word gemiddeld sowat 250 L water per persoon per dag gebruik, vergeleke met die wêreldgemiddelde van 173 L. Die departement raam nie-inkomstegenererende water op 47%, waarvan fisieke waterverliese sowat 27 persentasiepunte uitmaak. Dit onderstreep die omvang van lekkasies en ander verliese.

Die departement waarsku buitensporige gebruik in gebiede waar water beskikbaar is, kan inwoners elders benadeel. “As sommige mense wat water het, steeds buitengewone hoeveelhede gebruik, beteken dit dat daar nie genoeg water sal wees vir mense in gebiede waar watertoevoer onderbreek word nie,” lui die verklaring.

Die probleem word vererger deur lekkasies in munisipale verspreidingsnetwerke. Foto: JHB Water

Rand Water kry jaarliks ’n vasgestelde hoeveelheid water uit die geïntegreerde Vaalrivierstelsel, en hierdie toekenning word volgens volhoubare beskikbaarheid bepaal. Die departement sê hy kan nie bloot ekstra water toeken wanneer verbruik styg nie; die hoeveelheid word slegs aangepas wanneer ernstige droogte of langtermynbeoordelings dit regverdig.

“Die departement kan nie bykomende volumes bo die hoeveelheid wat reeds aan Rand Water toegeken is, beskikbaarstel nie,” lui die verklaring. Dit beklemtoon dat hoë damvlakke nie onbeperkte onttrekking beteken nie en dat doeltreffende verspreiding en verantwoordelike verbruik noodsaaklik bly.

Huishoudings word versoek om korter te stort, krane toe te draai, lekkende toilette en pype te herstel en tuine spaarsaam tussen 18:00 en 06:00 nat te lei. Plaaslike beperkings kan ook die gebruik van tuinslange, die was van voertuie en die aanvul van swembaddens raak.

Munisipaliteite, veral in Gauteng, word aangemoedig om inwoners op die hoogte te hou van watervoorrade, suiweringskapasiteit, verspreidingsprobleme en moontlike ingrypings. Die departement hou damvlakke en hidrologiese toestande fyn dop en werk saam met rolspelers om betyds op veranderende omstandighede te reageer.

OFM Nuus dg

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.