On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

TLU SA verkla MKP-LP oor uitlatings ná plaasaanval

───   14:07 Tue, 10 Nov 2026

TLU SA verkla MKP-LP oor uitlatings ná plaasaanval | News Article
’n Saamgestelde foto van Andile Mngxitama (links), MKP-LP, en Henry Geldenhuys, TLU SA-president. Foto: TLU SA

’n Landbouorganisasie vra die polisie moet ’n strafregtelike klag teen ’n LP van die MK-party deeglik ondersoek nadat hy ’n strafregtelike klag ingedien het weens die politikus se uitlatings oor ’n plaasaanval in Noordwes.

Die strafregtelike klag, wat Henry Geldenhuys, TLU SA-president, ingedien het, is Vrydag (6/11) geformuleer en onderteken. Hy vra die polisie moet ook die tersaaklike grondwetlike bepalings en ander toepaslike wetgewing in ag neem en die nodige stappe doen om Andile Mngxitama vir sy uitlatings aanspreeklik te hou.

Mngxitama het hom oënskynlik ten gunste van die aanval op Donovan Marx op 5 Oktober uitgespreek. Hy het na bewering gesê die afsny van boere se ore is simbolies van hoe wit mense hulle doof hou. Hy het ook na boere as “gronddiewe” verwys en gesê hy vier die aanval op Marx en sal nie verskoning daarvoor vra nie.

TLU SA beskou dié uitlatings as “uiters ernstig en onaanvaarbaar”, veral gegewe die voortslepende geweldsmisdaad waaronder Suid-Afrikaanse boere gebuk gaan. “TLU SA is ’n landbouorganisasie wat kommersiële boere verteenwoordig wat reeds onder aanhoudende gewelddadige misdaad ly,” sê Geldenhuys.

Donovan Marx en sy vrou, Louise. Foto: Facebook

Dit is onaanvaarbaar “om ’n wrede aanval op ’n boer openlik te vier en uitsprake te maak wat geweld teen ’n bepaalde groep mense regverdig”, voeg hy by. 

Geen persoon, ongeag sy politieke posisie, behoort toegelaat te word om rassehaat aan te wakker of geweld en moord in Suid-Afrika aan te moedig nie.

Die strafregtelike klag is gegrond op Artikels 9 en 16 van die Grondwet, wat onderskeidelik die reg op gelykheid en vryheid van uitdrukking beskerm. TLU SA het reeds Donderdag ’n afsonderlike klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie oor Mngxitama se uitlatings ingedien.

“Vryheid van uitdrukking kan nie as verskoning gebruik word om geweld te verheerlik, rassehaat aan te wakker of die lyding van slagoffers van plaasaanvalle te bespot nie,” sê Geldenhuys. 

“Ons kan nie stilbly wanneer sulke uitlatings gemaak word nie. Die veiligheid en menswaardigheid van elke Suid-Afrikaner moet beskerm word.”

TLU SA sal die verloop van die prosesse fyn dophou en aanhou optree teen enige dade of uitsprake wat geweld teen boere en landelike gemeenskappe aanmoedig.

OFM Agri cvs

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za. 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.